
Brandstofpryse
was reeds voordat Rusland Oekraïne ingeval het op rekordvlakke en dreig om nou
selfs verder deur die dak te skiet. Brandstof word maandeliks aangekoop en die
prys is nie onderhandelbaar nie.
Dit maak dit baie moeilik om raad te gee oor hoe boere te werk kan gaan om die impak van hoë brandstofpryse op hul sak te versag, maar daar is tog opsies, sê mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou.
Hy raai boere aan om met hul brandstofverskaffers te probeer onderhandel vir afslag. Nog ’n opsie is om koopgroepe te vorm. Hy waarsku egter dat die verspreiding van die brandstof dan goed beplan moet word.
Grootmaatverbruikers het die opsie om verskansingsprodukte te gebruik om hulle teen brandstofkoste te verskans.
Hy glo dat boere brandstof reeds optimaal gebruik en dat daar geen vermorsing op plaasvlak plaasvind nie.
Wat in die toekoms met brandstofpryse sal gebeur, is volgens hom die groot vraag. Dit is moontlik dat brandstofpryse, soos bespiegel word, met R5 per liter in April kan toeneem. Dit is egter moeilik om ’n spesifieke bedrag te voorspel aangesien die syfers rondom brandstofpryse nie meer gepubliseer word nie.
Hy sê dit is onwaarskynlik dat die regering sal probeer om die impak van stygings, wat waarskynlik die volgende twee maande sal voortduur, te versag.
Volgens hom sal die oorlog in Oekraïne en die optrede van die organisasie van petroleum-uitvoerlande (Opul) ’n groot impak op brandstofpryse hê. “As hulle produksie in die komende maande kan verhoog, kan die olieprys op meer aanvaarbare prysvlakke, hopelik minder as $100 per vat, stabiliseer.”