Ná die aankondiging van die jongste brandstofprysverhogings verwag kenners dat oliepryse in die komende maande hoog gaan bly.
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer (LBK), sê omdat oliepryse tans rondom $120 per vat beweeg, is nog ’n styging in brandstofpryse onafwendbaar.
“Ons in Suid-Afrika is gelukkig dat ons wisselkoers teen die dollar redelik sterk is om die druk op inflasie te absorbeer,” sê Purchase. “Ek het ’n gevoel die pryse gaan redelik hoog bly weens die onsekerheid oor voorsiening, en ek dink ons het nog nie die einde gesien van die onsekerheid oor voorraad nie.”
Mei se pryse
Die Departement van Energie het Donderdag (28 April) aangekondig dat petrolpryse vir alle grade petrol op 4 Mei met 29c per liter styg, terwyl diesel 16c per liter duurder gaan wees.
Die styging word grootliks aan die hoër internasionale olieprys tydens April toegeskryf. Die plaaslike prysstyging sou hoër gewees het, maar die rand het in April ’n gemiddelde wisselkoers van R6,77 teenoor die dollar bereik, terwyl die gemiddelde vlak vir Maart R6,95 was.
Slegte invloed
Volgens Purchase gaan die stygings ’n slegte invloed op die land se ekonomiese herstel in geheel asook op die totale landbouwaardeketting hê. “Dit jaag die hele kostestruktuur van ’n bedryf op.”
Hy sê tans is die vraag na kommoditeite redelik hoog en ’n hoë olieprys gaan die pryse hoër hou. Wat boere se koste betref, sê Purchase dié styging verhoog boere se risiko’s. “Dit lei tot groter risiko’s wat produksiekoste en veral kunsmis aanbetref. Daardie koste gaan die boer nie noodwendig kan verhaal uit hoër kommoditeitspryse vanweë ’n groter vraag na, byvoorbeeld, grane nie.”
29 April 2011