
Nadat brandstofpryse in Januarie vanjaar gedaal het, sal dit na verwagting in Maart weer rekordvlakke bereik. Dit is slegte nuus vir die landbousektor wat reeds met hoë insetkoste sukkel, sê mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou.
Netwerk24 berig volgens syfers van die middel van die maand wat aan dié publikasie verskaf is, is daar ’n onderverhandeling van tussen R1,26/liter en R1,34/liter op brandstofpryse vir die eerste twee weke van die oorsigmaand vir Maart se pryse.
Volgens Netwerk24 is die onderverhandelings as volg:
• 95 oktaan-petrol: R1,26/liter;
• 93 oktaan-petrol: R1,25/liter;
• Diesel met 0,05% swael: R1,32/liter; en
• Diesel met 0,005% swael: R1,34/liter.
Maree sê dié prysverhogings sal ’n uiters ongunstige impak op die landbousektor hê, veral aangesien die oesseisoen vir mielies na verwagting in April sal begin. “Dit sal onmiddellik graanprodusente se winsmarges onder druk plaas, terwyl hulle reeds te kampe het met prysstygings van ander insette soos kunsmis, lone en krag. Dit sal ook ’n impak op vervoerkoste hê.
“Dit is beslis nie goeie nuus nie. Ons weet nie hoe lank die produsente nog die druk op hul winsmarges sal kan absorbeer nie.”
Maree sê dit is vir boere nie ’n opsie om minder brandstof te gebruik nie aangesien ’n sekere hoeveelheid brandstof benodig word om produksievlakke te handhaaf.
Volgens Maree sal die styging in brandstofpryse tot ’n verhoging van inflasie en gevolglik hoër rentekoerse lei.