
Boere in Brasilië, veral besproeiingsboere, ervaar groot uitdagings met die gesloer oor waterregte-kwessies.
Mnr. Marcelo Lopes, die voorsitter van Brasilië se besproeiingsbedryf-vereniging, sê die feit dat die land baie natuurlike woude het, sorg soms vir groot probleme. Hy het by die Agrishow 2011 in Ribeirao Preto in Brasilië met Landbou.com gesels.
Nuwe wetgewing oor die verwydering van woude om plek te maak vir verbouing moet binnekort bekend gemaak word. Dié wetgewing en die regulasies wat daarmee gepaardgaan, gaan beslis ’n invloed op die goedkeuring van waterlisensies hê.
“Soms kos dit die staat tot ’n jaar om ’n eenvoudige navraag van ’n boer te beantwoord, en as dié wetgewing in plek sou kom, weet niemand hoe lank dit dan sal vat nie,” aldus Lopes. “Elke boer wie se plaas langs ’n rivier lê en sy grond wil besproei, moet 30 m aan elke kant van die rivier onaangeraak as natuurlike woud laat. Verder moet hulle ook sowat 20% van ’n plaas se grond in sy natuurlike vorm behou. Dit beteken dat sommige van ons boere slegs op sowat 50% van hul plase kan boer,” vertel Lopes.
Groter potensiaal
Lopes sê hulle is tans in die tweede fase van navorsing om te bepaal hoe Brasilië se besproeiingsektor verder ontwikkel kan word. Sowat 5% of 4,5 miljoen ha se landbougrond is tans onder besproeiing, maar die sektor meen dat die potensiaal bestaan om dit tot 30% uit te brei.
Wat produksie betref, lewer die bogenoemde 5% van die landbougrond sowat 15% van die land se landbouprodukte. Dit verteenwoordig op die ou end sowat 35% van die produkte wat deur die verbruiker gebruik word.
Lopes sê hulle reken die uitbreiding is belangrik, want dit kan die sektor se reeds bestaande jaarlikse inkomste van R1,2 miljard laat groei.
Waterkonflik en kragtariewe
Volgens Lopes kom konflik oor water in sommige dele van die land voor, maar dit kom minimaal voor in dié dele wat op besproeiing fokus. “In die São Paulo-streek ontstaan daar gereeld konflik omdat dit een van die droër dele is, maar wel baie vrugbaar.”
Hy sê hulle verduur baie kritiek omdat die bedryf sowat twee derdes van die land se watergebruik verteenwoordig, “maar ’n mens moet perspektief behou, want sonder genoeg water is daar nie genoeg kos nie”.
Lopes sê hulle is wel dankbaar dat tegnologie so ontwikkel het dat ’n boer tans 50% minder water gebruik as wat tien jaar gelede die geval was. Wat kragverbruik betref, probeer hulle tans werkbare maniere vind om die gebruik van elektrisiteit te beperk, aangesien kragtariewe sowat 80% van ’n besproeiingsboer se produksiekoste beloop.
Rys is die produk wat die meeste onder besproeiing in Brasilië verbou word, met sowat een miljoen hektaar wat aangeplant word. Ander gewasse sluit verskillende soorte bone, lemoene, suikerriet, aartappels, wortels en suikerbeet in.
4 Mei 2011