Brasilië stort nie hoenders op die Suid-Afrikaanse mark nie, sê mnr. Adriano Nogueira Zerbini, verhoudingsbestuurder van die Brasiliaanse pluimveevereniging (UBABEF).
“Ons het geen belangstelling om die mark te oorstroom nie en daar is geen rede om besorg te wees daaroor nie,” het Zerbini in Sandton, Gauteng, gesê.
Hy het met die media gepraat nadat die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) aangekondig het dat hy die moontlike storting van bevrore, heel Brasiliaanse hoenders en bevrore, beenlose hoenderstukke op die Suid-Afrikaanse mark ondersoek.
Bedreiging
Mnr. Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die SA Pluimveevereniging, hou egter vol dat invoer vanaf Brasilië die afgelope ruk soveel toegeneem het dat dit ’n bedreiging vir plaaslike produsente inhou.
“Omtrent 80% van die pluimveeprodusente in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie word ernstig deur storting benadeel. Die ongunstige uitwerking van produkstorting word duidelik weerspieël in die verlore markaandeel. Dít het ook tot werksverliese gelei.”
In 2001 is 5% van Brasiliaanse hoender na Afrika uitgevoer en 22% daarvan het na die Europese Unie gegaan. Vanjaar het dié land se uitvoer na Afrika tot 12% gestyg, terwyl uitvoer na Europa met 5% gestyg het. Ongeveer 30% van Brasilië se hoender word uitgevoer. Sowat 5% daarvan beland op die Suid- Afrikaanse mark.
25 Julie 2011