
Mnr. Anton Bredell, minister van plaaslike regering in die Wes-Kaap, het op ’n landbouberaad op Stellenbosch boere gewaarsku om nie hof toe te gaan oor eiendomsbelasting nie. Hy meen dat boere besig is om oningeligte besluite te neem en hulself daardeur te benadeel.
“Die mense van my departement het baie gedoen om met die landbou te praat en die Wet op Eiendomsbelasting vir boere te verduidelik. Verlede jaar het ons ’n voorlegging voorberei, maar niemand in die landbou het daarin belang gestel nie,” het hy gesê.
Hy het vertel hoe hy vroeër in die jaar met boere in Beaufort-Wes ontmoet het en onsuksesvol met hulle onderhandel het oor die klagte wat hulle oor die nuwe eiendomsbelastingtarief (500% hoër) gehad het. “Van hulle is baie hardkoppig,” sê Bredell. “Hulle wil nie die slegte nuus hoor nie.”
Boere verloor hofsake oor belasting
Dié boere het die saak in die hof betwis, maar die uitspraak was nie in hul guns nie. Hy is bekommerd oor belastingbetalers van die distrik Bergrivier wat die saak wat hulle teen die munisipaliteit verloor het, na die Grondwethof wil neem.
“Hulle gaan ’n klomp boere bankrot maak as hulle aanhou om hierdie saak in die hof baklei. Hulle gaan nie hulp kry nie – die geld gaan uit hul eie sak moet kom,” s. Bredell. Sy boodskap aan alle belastingbetalersverenigings is dat hulle moet ophou om belastingsake in die hof te veg.
Hy het gepraat oor die sake wat belastingbetalers van die Swartland, Bergrivier en Beaufort-Wes teen munisipaliteite aanhangig gemaak het en uitgewys hoe al drie sake deur die munisipaliteite gewen is. Bredell sê daar is eintlik geen wenners in dié soort sake nie.
Die sake kos derduisende rande en indien die munisipaliteite verloor, sal hulle in elk geval die inkomste wat hulle verloor het, met nóg hoër belasting in die toekoms insamel. Bredell het boere aangemoedig om by munisipale bedrywighede betrokke te raak en om te probeer om saam met munisipaliteite te werk.
Kyk hier na 'n video waar Bredell praat oor boere en eiendomsbelasting.