
Grondeienaars en boere sal betaal word vir hul omgewingswerk en volhoubare maniere van voedselproduksie.Luidens 'n berig van die BBC sal die omgewingsgrondbestuurskemas (Elms) ook boere betaal wat gewasplae sonder chemikalieë bestry.
Dié maatreëls is breedweg deur boerdery- en omgewingsgroepe verwelkom.
Volgens die regering sal die geld boere in staat stel om voedsel volhoubaar te produseer, terwyl hulle die natuur beskerm en die omgewing verbeter.
Me. Thérèse Coffey, minister van omgewingsake, het gesê boere is die kern van die ekonomie wat voedsel produseer, maar ook die bewaarders van die grond waarvandaan dit kom.
“Die twee rolle loop hand aan hand,” het sy gesê. “Ons bespoedig die uitrol van ons boerderyskemas, sodat almal finansieel ondersteun kan word. Terwyl hulle voedsel meer volhoubaar produseer, beskerm hulle ook die planeet.”
Landboubeleid in Brittanje is ’n afgewentelde verantwoordelikheid. Engeland, Wallis, Skotland en Noord-Ierland het elkeen sy eie subsidieskemas.
Elms is ontwerp om die Europese Unie (EU) se gemeenskaplike landboubeleid te vervang noudat Brittanje nie meer deel van die EU is nie. Dit is die grootste verandering in plaasbeleid in Engeland in 40 jaar.
In Engeland sal die Elms nou uit drie betalingskemas bestaan:
- Die aansporing vir volhoubare boerdery konsentreer op grondgesondheid en die vermindering van die gebruik van insette soos kunsmis en insekdoders.
- Die landskapherstelskema sal grondeienaars betaal vir ambisieuse grootskaalse projekte om die natuur te beskerm en vernuwe.
- Die Countryside Stewardship Plus-skema sal boere beloon vir optrede om klimaatsverandering teen te werk en die natuur te help.
Die aansporing vir volhoubare boerdery word uitgebrei om betalings vir die versorging van heinings, weiveld en grond in te sluit.
Die Countryside Stewardship Plus sal boere beloon vir “gekoördineerde optrede, saam met naburige plase en grondeienaars om klimaat- en natuurdoelwitte te ondersteun”.
Dit sluit natuurlike vloedbestuur, herstel van vleilande en die verbetering van bosveld in.
Mnr. David Exwood, vise-president van die nasionale boerevereniging, het gesê die besonderhede was nuttig en verskaf “sommige van die duidelikheid waarvoor ons gevra het”.
Mnr. Martin Lines, voorsitter van die Nature Friendly Farming Network, het gesê dit is nie perfek nie, maar dit is ’n begin. “Individuele optredes op hul eie sal egter nie ons klimaat- en natuurteikens bereik nie. Daar bly steeds die behoefte aan die samevoeging tussen optredes om ’n stuk-stuk benadering te vermy.”
Brittanje is een van die lande wêreldwyd waar die natuur die meeste afgetakel is.
Mnr. Gareth Morgan, die grondvereniging se hoof van boerderybeleid, het gesê: “Ons verwelkom ’n groter gevoel van dringendheid van die regering om boere te help om voedsel veerkragtig – en in harmonie met die natuur – te produseer. Maar baie meer is nodig om hulle te help om die transformerende veranderinge te maak om ons te help om ons klimaat- en natuurdoelwitte te bereik.”
Mnr. Mark Tufnell, president van die Country Land and Business Association, het gesê baie saaiboere sal aangemoedig word om met die nuwe praktyke te eksperimenteer, maar daar is “min nuut” aangebied vir heidegrond of sukkelende heuwelboere.
Betalings ingevolge die EU-beleid was jaarliks sowat £3,5 miljard (sowat R74 miljard) en die meeste was gegrond op hoeveel grond elke individuele boer besit het. Dit het eindelik gelei daartoe dat net die rykste boere daaruit voordeel getrek het.
Bykomende bronne: CNN; The Guardian