
Die Waitrose-winkelgroep se inisiatief om Suid-Afrikaanse appels wat verlede jaar deur hael beskadig is te verkoop, word in Brittanje goed ontvang.
Volgens Jodie Gordon, ’n woordvoerder van Waitrose, is die reaksie van verbruikers baie groter baie groter as wat verwag is: “Verkope oor die afgelope paar weke was 50% beter is as vir dieselfde tyd verlede jaar. Verkope vir die beskadigde appels is ook beter as vir die standaard reekse appels wat ons verkoop.”
Greg Sehringer, Waitrose se appelaankoper, sê dat hy bly is dat Waitrose Suid-Afrikaanse verskaffers op hierdie manier kan help en dat Waitrose-verbruikers verstaan dat vrugte steeds lekker smaak, al lyk dit nie so mooi nie.
Robert Graaff van die plaas Lushof in die Witzenberg-vallei, sê die program het sowat 5% van sy appels gevat en dat die pryse ’n bietjie beter is as vir die mark vir sap. Hy dink egter dit is ’n goeie program om vir verbruikers bewus te maak van hoe uitgelewer boere aan die natuur is.
Wiatrose reken dat sowat 750 miljoen vrugte weens ongure weer beskadig is in die Witzenberg-vallei en dat boere in die area en rondom Ceres sowat 70% van hul vrugte verloor het.
Die beskadigde appels word vir tien in ’n sak teen £2 verkoop. Daar is ’n verskeidenheid van kultivars – Royal Gala, Cripps Pink, Braeburn en Nicoter – in elke sak. Waitrose het dieselfde in 2011 gedoen met appels van die Verenigde Koninkryk, nadat produsente groot skade weens ryp gelei het.