
André Steenkamp van Calvinia het dié skrywe aan Landbou.com gestuur:
Op 7 Augustus 2015 het my broer my gebel en in trane meegedeel dat hy nie meer kan nie. Hy het selfmoord oorweeg, maar wou net met my eers gepraat het. Hy het alle beskikbare fasiliteite opgebruik by die bank en ook op my skoonsuster se naam geleen – soveel die bank tot haar beskikking gestel het. Hy het R19 beskikbaar gehad in sy rekening en hul baba was slegs drie maande oud gewees. Ek het vreeslik somme gemaak om te sien of ek wel die plaas uit my salaris sou kon help. Op 11 Augustus is WLK Boerdery geregistreer by SARS en kon my broer aangaan met sy boerdery-aktiwiteite.
Elandsfontein is die 2de oudste plaas wat nog net deur een familie in Calvinia besit was. Sedert 1745 behoort die plaas aan die Steenkamp-familie. Die enigste plaas ouer as Elandsfontein, is 'n plaas in Ceres wat aan die van der Merwe-gesin behoort.
Ten tyde dat ek oorgeneem het, het my broer van die ooie reeds verkoop en die geld gebruik om die plaas aan die gang te hou. Ek het 110 ooitjies aangekoop omdat die getal ooie wat hy gehad het. nie lewensvatbaar was nie. Hy het 250 ooie gehad en intussen met aanwas het ons tot op getal 500 gekom.
Geen voer in die store
In 2015, weens die feit dat my broer nie geld gehad het voor Augustus om sy skape voldoende te voer nie, was sy lam- en speenpersentasie uiters min. Ons inkomste was slegs R29 000 tussen wol en 18 lammers wat ons kon bemark het. In 2016, wat ek gehoop het 'n beter jaar sou wees, het die inkomste gestyg tot net onder R200 000. Daar was geen voer gewees in die store nie en ek’t reeds in November 2016 my eerste vrag voer aangekoop (op skuld). Die verliese aangeteken in die 21 maande wat ek my broer probeer op sy voete help, is reeds R735 000.
Verstaan dat dit uit my salaris betaal word en baie maande is daar na die boerdery en my aftrekkings, nie geld oor om van te lewe nie. Die lidmaatskap van die landbouvereniging kon ek nie betaal nie want ek het nie geld gehad nie. Sedertdien voer ons al ons vee en kos die voer rondom R10 000 per week. Iets wat ten volle vanuit my salaris en barmhartige samaritane gedra word.
Ek het in Januarie 2017 na die brande in die Roggeveld, vyf interlinks voer gereël, asook R25 000 ontvang vanaf Caring Daisies en ander bedrae wat nooit aan my deurgegee was nie. Dit is alles oorbetaal aan die Suid-Roggeveld Landbouvereniging waarmee hul die boere kon help. Ek’t R5 000 beskikbaar gestel om 'n vrag te betaal, waarop die vervoerder versoek het ek moet dit betaal vir jeugwerk op die plaas waar ek werksaam is. Ek moes toe net die lidmaatskap betaal het, op die kantlyn gesit het en kommentaar gelewer het. Ek wou keer dat ander boere, soos my broer alles verloor, en van voor af moes begin.
Staatshulp slegs vir BV's
Dit is hartseer om te verneem dat die staatshulp slegs toegedeel word aan boere wat hul ledegeld betaal het. Ek betaal belasting elke maand en voel ek is geregtig op regeringshulp. My broer was op die lys in 2015 en was toe 'n lid van die boerevereniging. Bloot die feit dat ons nie nou meer ons ledegeld kan betaal nie, veroorsaak dat ons gehanteer word asof ons melaats is. Iets wat ek nie vir enige boer ooit toewens nie – om nie geld te hê nie, is verskriklik.
My skoonsuster werk nou in Bloemfontein en my broer sien hul elke drie maande. Hul dogtertjie is twee jaar oud en enige pa wil mos sy kind sien groot word, daar wees as sy wakker word of as sy siek is.
Ek is ten volle vir die georganiseerde landbou en waardeer die werk wat hulle doen. Ongelukkig is daar 'n groot teleurstelling by my omdat ons uitgesluit word van regeringshulp soos dit tans die geval is. Ons lewer 'n bydrae tot die ekonomie van die Noord-Kaap, betaal minimum loon en selfs meer, het twee werksgeleenthede behou en probeer sover moontlik die landbou se naam hoog hou en 'n bewustheid skep vir boere wat deur die ergste droogte ooit gaan.
Kan nie meer druk hanteer nie
Ek het gisteraand gebid dat die Here my asb. moet kom haal. Ek kan nie meer die druk van droogte en die mense se onregverdigheid teenoor arm boere hanteer nie. Ek dink nie iemand besef hoe dit voel om te moet pleit vir voer nie. Ek was altyd iemand wat graag help, maar die afgelope tyd is ek altyd aan die vra- en ontvangkant.
Ek bid vir die boere en elkeen wat swaar kry. Ek bid vir die organisasies soos julle en is dankbaar vir die werk wat almal doen wat die boere help. Maar een persoon kan net soveel hanteer alvorens hy moeg en afgemat raak. Soos ek voel, is daar baie ander boere wat soos ek voel. Droogte diskrimineer nie teen ras, geslag of enige persoon nie. As dit slaan, slaan dit waar dit jou die seerste maak - in jou sak en in jou hart.
Groete
Andre Steenkamp andresteenkamp123@gmail.com