Die Kaapstadse Hooggeregshof het ‘n aansoek vir ‘n verbruikers klas-aksie teen maatskappy wat skuldig bevind is aan deelname aan ‘n broodpryskartel van die hand gewys.
Luidens ‘n berig op News24 het ‘n groep organisasies gevra dat die aansoek as ‘n klas-aksie gesertifiseer moet word. Die groep organisasies sluit Black Sash, Cosatu in die Wes-Kaap, die Kinder Navorsingsentrum en die Nasionale Verbruikersforum in.
Gaan steeds voort
Een van die groep se regsverteenwoordigers sê hulle gaan egter voortgaan met die aksie.
Volgens mnr. Charles Abrahams, die regsverteenwoordiger, sal ‘n dagvaarding Vrydag, 26 November, aan Tiger Brands bedien word, terwyl dagvaardings so vinnig as moontlik daarna op die Pioneer Foods Groep en Premier Foods bedien sal word.
Volgens Abrahams sal die aansoek vir sertifisering nou deel vorm van die hoof-aksie. Waarnemende regter Francois van Zyl het gesê hy sal later ‘n volledige beslissing verskaf.
Laaste dag
Tiger Brands is in 2007 aan nie-mededingende optrede skuldig bevind, en die laaste dag om ‘n siviele saak aanhangig te maak is Vrydag, 26 November.
Die Mededingingskommissie het vroeër die maand aangekondig dat hulle met Pioneer Foods ooreengekom het op ‘n boete van sowat R500 miljoen vir nie-mededingende praktyke in die mielie- en koringmaling, bakerye, eier- en pluimveebedrywe. Hulle is vroeër ‘n boete van R195,7 miljoen vir betrokkenheid by die broodkartel opgelê.
Die jongste boete is egter nog nie deur die Mededingingstribunaal goedgekeur nie.
Bron: News24.com
26 November 2010