
Bruin sprinkaanswerms word ná die onlangse reën ook by Beaufort-Wes, Laingsburg, Prins Albert, Murraysburg en Merweville in die Wes-Kaap aangemeld.
Volgens die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling kom swerms bruin sprinkane, sedert die eerstes verlede Donderdag aangemeld is, nou al in 20 distrikte in die Noord-Kaap en 9 distrikte in die Oos-Kaap voor. Meer as 20 boere is by Somerset-Oos opgelei om die uitbreking te help beveg. Somerset-Oos, Aberdeen, Pearston en Graaff-Reinet word as brandpunte beskou.
Dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder van CropLife SA, sê sprinkaanswerms sal voorkom twee weke nadat daar reënval in ’n gebied was en dagtemperature 31 °C bereik. Daar kan dus voorspel word waar hulle volgende sal voorkom.
Volgens hom het die Noord-Kaapse departement van landbou nog die geleentheid om die uitbreking te takel voor dit in ’n krisis ontaard. “Die sprinkane het nog nie die vlieërstadium bereik nie. Hulle sit nou nog in kolle op die grond. Dit duur 21 dae vir die sprinkane om volwasse te word. As hulle dan begin rondvlieg, is die hel los. Daar is nog ’n goeie twee weke om die sprinkane ordentlik vas te vat.
“Die spanne wat sprinkane bestry, moet net nóú ordentlik optree. Klap die sprinkane waar daar groeikolle is. Laat die boere hul skape oor die sprinkane jaag, met bakkies oor hulle ry of spuit waar dit nodig is. Die situasie kan steeds in ’n gemors ontaard.”
Volgens hom het die Noord-Kaapse departement van landbou voldoende kapasiteit om die uitbreking te bestuur solank hy die wil het om dit te doen. “Boere meld die swerms by die departement aan en dan moet die spanne wat daarop reageer, geaktiveer word. Hulle het nie ’n klomp amptenare daarvoor nodig nie. Hulle moet net die nodige middels en spuite beskikbaar hê.”
Lede van die publiek en boere word versoek om enige swerms aan me. Mulalo Matodzi by 083 326 7773, me. Vuyokazi Mpumlwana by 084 760 8176 of dr. Ikalafeng Kgakatsi by 072 198 9882 aan te meld. Boere kan swerms ook by die kantoor van die departement van landbou op De Aar aanmeld by 053 631 3122 of 053 631 3261, of by dr. Gerhard Verdoorn by 082 446 8946.