
Die beoordeling, wat die eerste keer in 17 jaar by Elsenburg gehou is, moes vanjaar in twee dae verdeel word met slegs 30 beoordelaars per dag om in ooreenstemming met Covid-19-regulasies te wees.
Volgens mnr. Alan Fourie, hoofbeoordelaar, skep die kampioenskap ’n besondere platform om uitnemendheid in die suiwelbedryf te bevorder. “Net die beste van die beste van elke vervaardiger word ingeskryf. Daarom het die beoordeling die nasionale maatstaf geword waarvolgens groot én klein vervaardigers – van internasionale maatskappye tot kleinkaasmakers – hulself jaarliks teen mekaar meet.”
Mnr. Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, sê dit is ’n besonderse prestasie deur die suiwelbedryf om in ’n moeilike jaar so ’n enorme getal produkte in te skryf. Dit is ook opwindend dat agt nuwe deelnemers tel onder die 68 deelnemende vervaardigers. Agri-Expo reël sedert 1834 die kampioenskap.
Die wenner in elk van die meer as 100 klasse word as SA kampioen bekroon, terwyl produkte van besonder hoë gehalte ook die Qualité-merk van gehalte ontvang. Dit word as die enigste merk van gehalte vir suiwelprodukte in Suid-Afrika erken. ’n Paneel van vyf kundiges wys die produk van die jaar aan.
Die wenners word op Vrydag 26 Maart aangekondig. Belangstellendes kan van 19:00 tot 20:00 inskakel by www.cheesesa.co.za/sa-dairy-awards vir ’n virtuele aanbieding vanaf Cavalli Estate. Besoek www.cheesesa.co.za en www.agriexpo.co.za, of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za vir nog inligting.