Van der Merwe, wat op 80 000 ha boer, is in ’n ingewikkelde likwidasiegeding met die Land Bank betrokke oor R80 miljoen wat hy die bank skuld. Die bank, wat 95% van sy skuld hou, het in hofsittings aangevoer Van der Merwe het sedert 2018 nog nie ’n sent terugbetaal nie. Die skuld neem maandeliks met meer as ’n halfmiljoen rand toe.
In nog ’n wending het mnr. Johan Victor, Van der Merwe se prokureur, hom op 23 Januarie onttrek. Victor het by navraag sy onttrekking bevestig en gesê hy het geen verdere kommentaar nie.
Volgens Van der Merwe is dit nie die einde van die pad nie. Hy is besig om met ’n hersaamgestelde regspan sy opsies te oorweeg.