
Rabobank sê in ’n onlangse verslag die groot daling in China se varkproduksie gaan na verwagting in 2020 tot stewige groei in die internasionale produksie van pluimvee en akwakultuur lei.
Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaihoenderorganisasie van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), sê China se vraag na diereproteïen bring groot veranderinge in die wêreldhandel in hoenderprodukte mee. Baie meer Amerikaanse en Brasiliaanse hoendervleis word nou na China uitgevoer en laat die prys van dié hoendervleis styg.
Die ontwikkelinge het invoer na Suid-Afrika onlangs begin raak. In September 2018 het Suid-Afrika sowat 51 000 ton hoendervleis ingevoer teenoor 36 000 ton in September vanjaar.
China bied volgens hom nou goeie uitvoergeleenthede vir die Suid-Afrikaanse bedryf. “Die SAPV is in gesprek met die departement van landbou en van handel daaroor. Die eerste Suid-Afrikaanse hoenderprodusente is reeds in China om oor volumes te probeer onderhandel.”
Breitenbach sê die bedryf het die regering ook gevra om Suid-Afrika se moontlike hoendervleisuitvoer na China op 13 en 14 November op die Brics-beraad in Brasilië te bespreek.
Meesterplan
Uitvoer is juis een van die doelwitte in die pluimveebedryf se eerste meesterplan, wat vroeg in November op pres. Cyril Ramaphosa se beleggingskonferensie in Sandton bekend gestel is.
Die plan, wat wyd verwelkom is, is met insette van die departement van handel, nywerheid en mededinging, en van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, asook belanghebbendes soos die pluimvee- en in-en-uitvoerbedryf opgestel.
Mnr. Paul Matthew, uitvoerende hoof van die assosiasie van vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie), sê ’n belangrike deel van die plan is om die bedryf van invoer- na uitvoergedrewe te verander – slegs 2% van die plaaslike produksie word uitgevoer.
Sekere dinge moet egter gereed wees om dit moontlik te maak. Die belangrikste is Suid-Afrika se vermoë om te voldoen aan die sanitêre en fitosanitêre vereistes van sy handelsvennote of markte waarheen hy wil uitvoer.
In die meesterplan word ’n teiken gestel dat daar teen einde Maart 2020 duidelikheid moet wees oor wat die veiligheids- en veterinêre vereistes in die moontlike uitvoermarkte is. Suid-Afrika moet daaraan voldoen sodat uitvoer kan begin.
Volgens Matthew is ’n toename in plaaslike produksie en die bestuur van elemente soos die voerprys is noodsaaklik om ’n lewensvatbare uitvoerbedryf moontlik te maak.
Hy beskou die uitvoer van rou of gaar hoenderborsvleis na die Europese Unie as die grootste markgeleentheid. “Daar is ’n vraag na die produk. As ons alles gereed kan kry, kan ons in die vraag voorsien en om ons deel van die mark meeding.”
Amie het hom daartoe verbind om ’n belangrike rol te speel deur bystand te gee en te help verseker dat aan alle EU-vereistes voldoen word.
Amie is verder besig om ’n uitvoerhandelsmatriks op te stel om vir die bedryf as gids oor ander geleenthede in die wêreld te kan dien. “Die Midde-Ooste is ook ’n groot geleentheid waartoe ons toegang kan kry deur ons halaal-standaarde in Suid-Afrika as hefboom te gebruik.”
Groter produksie
Breitenbach sê die plaaslike bedryf het 10% ongebruikte kapasiteit en kan dit dadelik inspan, hoewel die produksiesiklus ’n sekere tydperk verg voordat meer hoendervleis geproduseer word.
Verder het die bedryf hom in die meesterplan daartoe verbind om R1,5 miljard te belê, wat in die volgende twee tot drie jaar tot groter produksie sal lei.
Benewens uitvoermarkte vir dié beoogde bykomende produksie word daar in die plan voorsiening daarvoor gemaak dat groter plaaslike verbruik bevorder moet word.
Ander doelwitte in die plan sluit transformasie in die hele waardeketting in, asook die beperking van invoer en die beskerming van die plaaslike bedryf teen onbillike invoer.