China se aankope van sybokhaar, wat tans tradisioneel hoog is, het met sowat 50% verminder, sê Sybokhaar Suid-Afrika.
Mnr. Deon Saayman, hoof uitvoerende beampte, sê hulle het die trae Chinese aankope baie vreemd gevind, maar hulle meen dit is moontlik ‘n gevolg van die onstabiele finansiële situasie in Europa.
“China is nie ‘n eindverbruiker van sybokhaar nie, meeste van hulle produkte word uitgevoer. Derhalwe dink ons dat die ekonomiese krisis in Europa ‘n impak op hulle het,” verduidelik hy. Dié tendens beïnvloed tans veral die groot-bokhaarmark in Suid-Afrika.
“Ons is wel baie positief dat dinge volgende jaar weer baie beter sal gaan,” aldus Saayman.
Markaanwysers
Intussen het die laaste veiling van die seisoen Dinsdag, 6 Desember 2011, in Port Elizabeth plaasgevind. Die gemiddelde markaanwyser vir sybokhaar tydens dié veiling, wat op R87,69 te staan gekom het, was 5,5% hoër as die sluitingsveiling in 2010. Dit was wel 3% laer as die markaanwyser van die vorige veiling.
Die markaanwyser vir die winterseisoen was, op R89,19 per kilogram, 12% hoër as vir die ooreenstemmende seisoen in 2010. Die gemiddelde aanwyser vir die jaar was 6,6% hoër as in verlede jaar. Die hoogste prys wat die afgelope jaar vir sybokhaar betaal is, was R231 per kilogram vir ‘n baal 27 mikron goeie styl winter kleinbokkiehaar.
Laaste veiling
‘n Groter as verwagte aanbod van 131 359 kg was by die laaste veiling beskikbaar. Dit het bestaan uit ‘n groot hoeveelheid saadhaar, wat pryse negatief beïnvloed het.
‘n Groter hoeveelheid kort grootbokhaar was aangebied, wat dit uiters moeilik gemaak het om dit met grootbokhaar - wat met beter lengtes hulle prysvlakke kon handhaaf – te vergelyk.
Mededinging was wel op ‘n beter vlak tydens die veiling, hoewel vethaar-uitvoerders steeds nie op die veilingsvloer kon meeding nie.
7 Desember 2011