Volgens mnr. Leon de Beer, bestuurder by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), word die situasie tans op die hoogste vlak hanteer en is dit reeds aanhangig gemaak by die direktoraat van dieregesondheid en die handelstaakspan wat vroeër deur die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye saamgestel is.
Die veiling wat op 20 Februarie in Port Elizabeth sou plaasvind, is reeds gekanselleer, maar uitvoer na Europa gaan steeds voort. De Beer is vol vertroue dat Suid-Afrika weer die situasie sal kan beredder soos in 2011, toe daar ’n uitbreking in KwaZulu-Natal was.
Mnr. Guillau du Toit, nasionale voorsitter van die NWKV, maan boere om nie paniekerig te raak nie. “Die omvang is kleiner as wat in 2011 in KwaZulu-Natal die geval was, aangesien dié uitbreking nóg verder van die wolproduserende gebiede ge- diagnoseer is as destyds,” sê Du Toit in ’n verklaring.