Net nou die dag is ’n sitruspakhuis op Fort Beaufort in die Oos-Kaap aan die brand gesteek ná ’n loongeskil, al behartig hierdie pakhuis ook uitvoersitrus vir die plaas se grondhervormingsprojek. Hoe help dit? In Noordwes word dorpies in puin gelê, met yslike verliese vir plaaslike besighede en boere se bedrywighede wat ernstig ontwrig word. Waarvoor?
’n Klomp roofsugtige politici gebruik gewetenloos belastingbetalers se geld om volgelinge te betaal om amok te maak. Hoekom? Net sodat hulle meer toegang kan kry tot belastingbetalers se swaarverdiende geld, waarvan hulle nóg meer uitdeel om aan bewind te kan bly, terwyl dienste ineenstort. Patronaatskap-politiek is wat dié malligheid genoem word waarvoor Suid-Afrika se kwynende fiskus ingespan word.
Dit neem ons nie juis vorentoe nie. In Bonnievale in die Wes-Kaap vind ’n mens egter die wonderlike tonikum teen dié nihilistiese trurat. ’n Wynboer, ’n elektriese ingenieur en ’n aktuaris het daar gewys waartoe Suid-Afrika in staat is wanneer talentvolle en empatiese mense landsprobleme persoonlik begin takel.