
Deesdae probeer ’n mens om so min as moontlik oor Suid-Afrika se politici te sê. Wat help dit tog? Almal besef hulle is nie ons beste mense nie. In die meeste gevalle, wil dit blyk, is dit nie eens óns mense nie. Dit is ’n klomp skelm Indiër-broers in Saxonwold.
Wat ministers betref, kan ek nie aan swakker kandidate dink om landsbesluite te neem nie, en dan sluit ek my mal neef en die moeilike buurman in. Dit is mense wat eenvoudig geen benul het hoe om hul werk te doen nie en ook nie ’n duit omgee nie. Politiek is al wat hulle ken.
Dit is wat die weelde verskaf. Die mense in wie se diens hulle behoort te staan, moet maar agter die familie en kennisse in die ry gaan staan. Toe me. Nomvula Mokonyane, Minister van Water en Sanitasie, nou die dag op die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) se kongres oor die waterverbruik van die suikerboer Charl Senekal en die tamatieprodusent ZZ2 tekere gaan, kon jy maar net jou kop skud en aanhou werk.
Daardie twee boerderye alleen het al veel meer vir hul gemeenskappe beteken as enige minister in die huidige Kabinet. Die huidige spul se prestasie is só vrot dat baie ekonome meen Suid-Afrika gaan minstens 10 jaar nodig hê om terug te kom op die ekonomiese peil waar ons was voor pres. Jacob Zuma oorgeneem het.
Verraderlik
Om te dink Mokonyane staan aan die stuur van watersake te midde van een van Suid-Afrika se ergste droogtes, is afstootlik. Dit is ook die vrou wat die tweede fase van die uiters belangrike Lesothohooglandskema met effektief twee jaar uitgestel het om geen ander rede nie as om te verseker haar pêlle kry die boukontrakte.
Dit is die toekomstige hoofaar vir Suid-Afrika se ekonomiese hartland. Sulke gedrag is, wel, verraderlik. Toe doen sy dieselfde met die verhoging van die Clanwilliamdam se wal. Die padkamp staan, maar niks word gebou nie, want die “regte mense” is nog nie betaal nie.
Kontrakteurs wat elders aangestel is, word blykbaar al maande lank nie betaal nie omdat haar departement R4,3 miljard in die rooi is. Dit maak jou regtig benoud. In die Wes-Kaap, waar meer as 50% van Suid-Afrika se landbou-uitvoerprodukte verbou word, lyk ’n treinramp met besproeiingswater ál meer waarskynlik, met sprake dat geen na-oeswater vir vrugteboere beskikbaar gaan wees nie.
Ekonomie
Dít is nou vir bedrywe waarop die hele land steun vir broodnodige buitelandse valuta in ’n krimpende ekonomie. In dié konteks is die onvermoë van Mokonyane se departement om basiese onderhoudswerk te doen, soos om die Voëlvleidam naby Gouda se kanale te onderhou, onvergeeflik. En dít alles ondanks Carl Opperman van Agri Wes-Kaap wat al jare lank waarsku oor presies wat nou gebeur.
Hoekom het die Wes-Kaapse provinsiale regering nie jare gelede al strenger waterbeperkings ingestel nie? Hoekom word dit steeds toegelaat dat ’n ieder en ’n elk onverpoos boorgate kan sink om hul grasperke mee nat te lei? Boonop funksioneer 67% van die land se rioolwaterstelsels nie behoorlik nie en ’n geskatte 4 200 000 000 liter onbehandelde riool beland daagliks in ons riviere.
Met die somer om die draai en die onlangse uitbreking van kriptosporidiose wat onder vee gemaai het nog vars in die geheue, raak ’n mens se bloed behoorlik koud. Minister Mokonyane moet baie minder praat en baie meer doen. Tot dan, wat help dit om oor haar te praat?
* Chris Burgess is redakteur van Landbouweekblad. Hierdie is sy redakteursbrief in LBW van 11 Augustus.