
Die Departement van Water en Sanitasie se eie bou-eenheid het die werk om die damwal te verhoog in September 2016 gestaak nadat me. Nomvula Mokonyane, die destydse Minister van Water en Sanitasie, ingegryp het. Die projek is gestaak omdat ’n tenderproses afgehandel moes word.
Terwyl die tenderproses aan die gang was, het 52 sleutelpersoneellede van die bou-eenheid in die omgewing van Clanwilliam aangebly en daagliks vir werk aangemeld, maar dan weer huis toe gegaan. Die gesloer met die projek het onder meer tot gevolg gehad dat landbou-uitbreidings nie kan voortgaan nie weens ’n tekort aan water.
In April vanjaar het mnr. Gugile Nkwinti, die nuwe Minister van Water en Sanitasie, die dam besoek. Hy het aangekondig dat bouwerk aan waterinfrastruktuur voorkeur sal geniet en dat die bouwerk aan die dam gou hervat sal word.
Die damwal sal met 13 meter verhoog word sodat genoeg water aan verbruikers in die Clanwilliam-omgewing, insluitend opkomende boere, voorsien kan word. Hierdie boere het 25 000 ha in die Ebenezer-grondeis gekry.
Op ’n vergadering die afgelope naweek het die amptenare Nkwinti ingelig dat daar kwessies is waaraan aandag gegee moet word, soos om ’n boupermit te kry.
Alles is egter nou gereed om met die projek te kan voortgaan.
Nkwinti sal waarskynlik self teenwoordig wees wanneer die werk aan die damwal op 8 Oktober begin.