
AfriForum verwelkom dit dat landdros Karien Brits op Dinsdag 19 April borgtog geweier het aan die twee beskuldigdes wat aangekla word van onder meer die moord op mnr. Terence Tegg en poging tot moord op mnr. J.J. Cassanga vroeër vanjaar tydens die staking by Clover.
Mnre. Mohale Shokane en Nkosinathi Mbatha se aansoek om borgtog is in die landdroshof in Tembisa aangehoor.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan me. Michele Bebbington, wat verloof was aan Tegg, en die Cassanga-familie by kragtens ’n waaksaamheidsopdrag.
Die organisasie sê kapt. Robert George Seckle, die ondersoekbeampte in die saak, het aan die privaatvervolgingseenheid gesê dat hy Dinsdag nóg ’n beskuldigde in hegtenis geneem het wat op 21 April in die hof moet verskyn. Die saak is voorlopig op die rol geplaas vir 23 Junie 2022 sodat die staat sy ondersoek kan afhandel.
Luidens AfriForum se verklaring word Shokane en Mbatha aangekla van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en kwaadwillige saakbeskadiging. Dit sluit onder meer misdade in wat sorteer onder skedule 6 van die Strafproseswet (Wet 51 van 1977), wat beteken dat die onus op die beskuldigdes rus om te bewys dat daar buitengewone omstandighede bestaan oor waarom dit in die belang van geregtigheid is dat hulle op borgtog vrygelaat moet word.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het volgens die organisasie aangedui dat die weiering van borgtog ’n baie gunstige ontwikkeling is en daarop dui dat die staat ’n prima facie-saak teen die beskuldigdes het.
“Ons voel dat geregtigheid geseëvier het en stem saam met die landdros dat die beskuldigdes geen buitengewone omstandighede kon bewys om hul vrylating op parool te regverdig nie,” sê Nel. “Ons wil ook die ondersoekbeampte komplimenteer met die inhegtenisneming van nog ’n beskuldigde en stem saam met die landdros dat hy ’n onwrikbare getuie tydens die borgaansoek was.”
Brits het in haar uitspraak genoem dat die hof nie anders kan as om te oorweeg waarom die beskuldigdes nié wou hê dat die hof die beeldmateriaal van die betrokke voorvalle moes besigtig nie. Dit volg nadat die verdedigingspan tydens die borgtogaansoek aanvanklik aangedui het dat hulle die beeldmateriaal in die hof wil wys, maar ná konsultasie met hul kliënte hierdie aansoek onttrek het.
Die hof het bevind die gevaar bestaan dat die beskuldigdes met die ondersoek kan inmeng omdat hul ondersteuners tydens die borgtogaansoek probeer het om vir Seckle te intimideer, dat hulle ’n vlugrisiko inhou en dat die groep wat Tegg en Cassanga aangeval het, duidelik die aggressors in die situasie was.