Clover het amptelik aansoek gedoen om op die Johannesburgse Effektebeurs te noteer.
As die aansoek goedgekeur word sal gewone- en voorkeuraandele voorts verhandel word om kapitaal te verhoog, om sleutelprojekte mee te finansier. Só het mnr. Johann Vorster, uitvoerende hoof van Clover Industrieë (Bpk) in ‘n persverklaring gesê.
Die melkreus beplan om as voedselverwerker in die verbruikersgoedere-afdeling te noteer.
Tesame met die notering beplan Clover om nuwe aandele privaat te plaas by ‘n aantal uitgesoekte beleggers. Die kapitaal wat op dié manier ingewin word, sal meestal gebruik word om die Cielo Blu-projek te befonds, skuld te delg en moontlike oornames te bewerkstellig.
Die Cielo Blu-projek is tans Clover se grootste kapitale projek. Dit beoog om die waardeketting in suiwel meer doeltreffend te maak, winsgewendheid te verhoog en kapasiteit vir huidige en toekomstige groei te skep. As deel van die projek sal produksiegeriewe nader aan melkbronne verskuif word om verspreidings- en verwante koste te besnoei. Dit sluit ook die uitbreiding van sleutel produksie- en verspreidingsentra in.
Clover is in 1898 as ‘n suiwelkoöperasie gestig en het in 2003 in ‘n maatskappy verander.
Verdere besonderhede oor die notering sal later bekendgemaak word.
18 November 2010