
Die mededingingstribunaal het gister, 1 November, Clover se verkryging van die melkwinningsdeel van Dairy Farmers of South Africa (DFSA) goedgekeur.
Die tribunaal sê in ’n kort verklaring die voorwaardes vir die voorgenome transaksie hou verband met indiensneming, opleiding en vaardigheidsontwikkeling, ondernemingsontwikkeling, verkrygingskontrakte en verskaffing van onverwerkte melk.
Die tribunaal sal later ’n volledige mediaverklaring oor sy besluit uitreik.
Mnr. Steven Veldhuysen, bestuursbeampte vir onder meer regsake by Clover, het vroeër gesê dat DFSA hom genader het om sy melkwinningsdeel terug te koop omdat hy finansiële druk ervaar. Die koopbedrag is R1.
Vir Clover sluit die voordele van die transaksie in dat hy weer self in beheer van sy melkwinning sal wees en die geleentheid sal hê om sy verhouding met boere te versterk.
Clover het DFSA in April 2017 as volfiliaal gestig om melkwinning te behartig en het toe eers ’n gedeeltelike belang behou. Die Milco SA-konsortium, waarin die Israelse maatskappy Central Bottling Company ’n beherende aandeel het, het Clover in 2019 gekoop. In Mei 2020 het DFSA Clover se belang uitgekoop.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.