
Die Mededingingskommissie het Clover se verkryging van Dairybelle se ondernemings vir jogurt- en langlewemelk voorwaardelik vir goedkeuring by die Mededingingstribunaal aanbeveel.
Die kommissie het in ’n verklaring gesê die voorwaardes is daarop gemik om aandag te gee aan die moontlike invloed van die verkryging op werksgeleenthede en om te verseker dat Danone steeds vir sy jogurt toegang sal hê tot sekondêre verspreidingsdienste wat Clover tans lewer.
Die kommissie sê hy het die markte vir die vervaardiging van UHT-melk, die koop van onverwerkte melk by boere, en die voorsiening van sekondêre verspreidingdienste aan derde partye ontleed. In die UHT-mark kon die kommissie nie enige teenmededingende gevolge ná die samesmelting vind nie.
Die kommissie het verskeie besware van boere ontvang oor die mark vir die koop van onverwerkte melk, maar het bevind dit is onwaarskynlik dat die samesmelting op sigself enige veranderinge in die markdinamika sal teweegbring.
Boere se kommer hou verband met koopkrag en voortgesette samespanning in die mark en van die kwessies wat geopper is, is deel van ander ondersoeke van die kommissie.
Die kommissie beveel aan dat Clover tot einde Junie 2015 sekondêre verspreidingsdienste vir Danone se jogurt lewer omdat die beëindiging van hierdie dienste volgens die kommissie teenmededingende uitkomste en ’n nadelige invloed op werksgeleenthede sal meebring.
Die kommissie het vasgestel dat Danone nie die dienste wat Clover lewer binne ‘n redelike tyd sal kan vervang nie.
Clover en Dairybelle het hulle tot tot ’n jaar lange moratorium op afleggings verbind maar die kommissie het tog bevind die samesmelting sal ’n beduidende invloed op werksgeleenthede hê wanneer Clover en Dairybelle se geriewe in die toekoms geïntegreer is.
Die kommissie het dus aanbeveel dat die tribunaal ’n voorwaarde neerlê waarvolgens die samesmelting tot geen afleggings mag lei nie, en dat Clover R30 000 moet opsy sit om sakegeleenthede of opleiding te finansier, sou enige werknemer ná die integrasie afgelê word.