
Die aandeelprys van die land se grootste suiwelprodusent het met 40% opgeskiet nadat dit op 19 Oktober verlede jaar bekend geword het dat ’n ander maatskappy hom dalk wil koop.
Die Clover-aandeel se sluitingsprys was op 18 Oktober R14,10 en teen Maandag 21 Januarie het die aandeel in ’n stadium teen R20 verhandel voor dit effens teruggesak het tot R19,84. Die maatskappy het nie in sy nuutste verklaring enige verdere besonderhede oor die moontlike koper of kopers bekend gemaak nie. Hy het sy aandeelhouers verwys na verklarings wat op 19 Oktober en 30 November oor die voorgenome transaksie uitgereik is, en gesê samesprekings duur voort.
Clover het sy buiging in 2010 op die JSE gemaak en sedertdien welslae behaal met sy herposisionering as ’n gediversifiseerde suiwelmaatskappy wat ook koeldrank en olyfolie vervaardig. Die klem is verskuif na nuwe waardetoegevoegde suiwelprodukte. Sy filiaal wat ongepasteuriseerde melk aangekoop en versprei het, Dairy Farmers of South Africa (DFSA), is ontknoop.
Produksie styg
Intussen dui inligting van Melk SA daarop dat Suid-Afrika se totale geraamde melkproduksie 3,9% hoër was as in 2017, teen 3 381 000 ton.
Melkproduksie het egter in November en Desember op ’n maandgrondslag gedaal. Die produksiedaling word toegeskryf aan ’n daling van 19% in produsenteprodusente tussen Maart en September – van R5/liter tot R4,05/liter, saam met uiters hoë temperature in die vroegsomer.
Op ’n jaargrondslag is produksiegroei van onderskeidelik 0,37% en 2,17% in November en Desember aangeteken. Volgens die Melkprodusente-organisasie is dié groei hoër as die tipiese jaarlikse groei in suiwelverbruik, wat die plaaslike voorraadvlakke kan beïnvloed.
“Die sterk groei in melkproduksie wat in 2018 plaasgevind het, kan produsentepryse op kort termyn onder druk hou. Tesame met die ongunstige weerpatrone wat reeds graanpryse laat styg het, en die verbruiker wat steeds onder druk is, dui dit op nog ’n moeilike jaar vir heelwat landboubedrywe, waarvan die suiwelbedryf een is,” sê die MPO in ’n verklaring.
Steeds 'n uitvoerder
Die MPO sê die bedryf was in November 2018 ’n netto uitvoerder, soos wat ook die geval was in die voorafgaande vyf maande.
Die totale uitvoer vir die maand beloop 17 400 ton en die randwaarde daarvan is R293 miljoen. Daarvan het langlewemelk 46% of 8 miljoen kg uitgemaak; melkpoeier en ingedampte melk 25% of 4 miljoen kg; en jogurt 16% of 2,7 miljoen kg. Die meeste suiwel is na Botswana (34%), Mosambiek (15%) en Lesotho (13%) uitgevoer.
Die invoer van langlewemelk het drasties afgeneem met slegs 51 ton ter waarde van R1,7 miljoen wat in November ingevoer. Die vry aan boord-pryse wissel van R23/kg tot R47/kg, wat dui op klein verpakkings met ’n spesifieke samestelling.
Totale suiwelinvoer vir die maand beloop 3 886 ton en die randwaarde daarvan is R193 miljoen. Die invoer bestaan hoofsaaklik uit melkpoeier (36%), wei (21%), kaas (22%) en langlewemelk (1%).
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.