
Clover se Mama Afrika-projek, wat in Oktober 2004 begin is, lei vrouegemeenskapsleiers, oftewel “mamas” op, wat hul vaardighede weer aan ander vroue oordra.
Die onderneming Trialogue het die projek verlede jaar met sy prys vir strategiese korporatiewe maatskaplike belegging vereer.
Deur die projek is meer as 40 “mamas” al opgelei, wat hul vaardighede op hul beurt aan meer as 2 000 ander vroue oorgedra het.
Teen Maart verlede jaar het die projek bygedra tot die totstandkoming van 140 inkomsteskeppende selfhelpprojekte en 182 sentrums, waaronder 23 vir naaldwerk, 22 vir brood bak, 21 vir kook en bak en 16 vir groentetuine.
Mnr. Nick Rockey, besturende direkteur van Trialogue, sê om strategiese waarde te hê, moet 'n projek 'n gunstige ontwikkelingsinvloed hê wat strook met en bydra tot 'n onderneming se voorrangsake, maar dit moet verder strek as reputasie-invloed.
Volgens prof. Elain Vlok, bestuurder van korporatiewe dienste by Clover wat ook by die Mama Afrika-projek betrokke is, sê die projek het 'n gees van omgee en die beskerming van weerlose groepe bevorder en het gehelp om inkomsteskeppende vaardighede in lae-inkomstegemeenskappe te ontwikkel en oor te dra.
Opbrengs op belegging is 116%
Die projek se opbrengs op belegging is 116%, gegewe die aanvanklike belegging vergeleke met die inkomste wat deelnemers gegenereer het.
Verskeie vennote het hulle al by die projek aangesluit. Clover-personeel kan ook self betrokke raak, wat bydra tot werknemermoreel en gemeenskapsbewustheid bevorder.
Die beoordelaars het gesê op die oog af spits die projek hom toe op kook en bak met melk as 'n kernbestanddeel. Op 'n dieper vlak is Clover egter betrokke in die landbou, waar daar vir vroue minder werkgeleenthede is as vir mans.
Die projek gee in dié opsig aandag aan geslags-, ekonomiese en maatskaplike kwessies.