Clover stel nie belang om die KWV by sy portefeulje te voeg nie, sê mnr. Johann Vorster, uitvoerende hoof.
Dít volg na ‘n berig Maandag (13 Desember) in Business Day verskyn het waarvolgens Vorster glo gesê het dat hulle wel moontlik sou belangstel om die wyn en spiritualieëreus aan te koop.
Vorster sê hy meen verwarring het ontstaan aangesien verskeie ontleders en belangstellendes al gevra het of Clover nie in só ‘n stap sou belangstel nie, veral omdat die maatskappy vandag amptelik op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) genoteer is.
Pas nie in nie
Vorster het aan Landbou.com gesê hy is seker daarvan dat Clover wel waarde tot die KWV sou kon toevoeg, maar dat hy nie in die verkoop van alkohol belangstel nie.
“Ons fokus is op handelsmerke in die koue ketting. Dit pas nie by ons produkreeks in nie en ons bemarking en verspreiding is nie reg daarvoor geplaas nie,” vertel hy.
Volgens die berig het Vorster glo verlede week met mnr. Thys du Toit, voorsitter van die KWV, gepraat, maar Vorster sê hy het nie met Du Toit in kontak getree in dié verband nie.
Intussen het Pioneer Foods en Halewood International Holdings glo reeds hul belangstelling in die KWV bekendgemaak.
14 Desember 2010