Die omset en bedryfswins van Clover het met 7,2% en 6,8% in die laaste ses maande van 2011 gegroei.
Die maatskappy het Dinsdag (13 Maart 2012) sy halfjaarlikse resultate vir die tydperk van Julie 2011 tot Desember 2011 bekend gemaak.
Mnr. Johan Vorster, hoof uitvoerende beampte, het die geleentheid geopen deur op te merk: “Ek dink baie van ons wens dat dit dié tyd volgende jaar kan wees, want dan sal ons eers die volle impak van ons Cielo Blu-projek kan sien.”
Die syfers
Die groep se omset het van R3,3 miljard tot R3,6 miljard toegeneem. Dit word eerder toegeskryf aan ’n hoër inkomste vanaf dienste gelewer aan prinsipale en ’n verbeterde produkmengsel met hoër verkoopsvolumes as aan hoër verkoopspryse. Die bedryfswins het van R176 miljoen yoy R187,7 miljoen toegeneem.
Die groep se wesensverdienste het met 16,6% tot R109,6 miljoen gestyg, hoewel die wesensverdienste per aandeel met 16,4% tot 61,2c gedaal het.
Die daling is ’n gevolg van aandele uitgereik ten tyde van Clover se notering op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE). ’n Dividend van 15c per aandeel is verklaar, wat op 10 April vanjaar aan aandeelhouers betaal sal word.
Vorster sê hulle is tevrede met die maatskappy se “stewige prestasie. Clover het daarin geslaag om sy winsgewendheid en markaandeel te laat groei ondanks moeilike handelstoestande en skerp stygings in produksiekoste.
"Die implementering van die Cielo Blu-projek bly op koers en dit het reeds van die beoogde vrugte begin afwerp, met verbeterde effektiwiteit en besparings.”
Die groep sê sy pryse aan melkboere het sedert Januarie vanjaar met sowat 20% gestyg, en dié verhoging is ingestel in ’n poging om kostedruk op boere te verlig. Dié verhoogde koste sal uit die mark verhaal word.
13 Maart 2012