
Die kapitale inspuiting in die maatskappy en die voorneme van die nuwe eienaars om die maatskappy buite die landsgrense te ontwikkel, kan selfs voordelig vir die plaaslike suiwelbedryf wees.
Aandeelhouers van Clover Industries, Suid-Afrika se grootste suiwelmaatskappy, het Maandag ’n aanbod van R25 per aandeel van die konsortium, bestaande uit internasionale en plaaslike beleggers gekry. Dis tot 77% meer as wat die aandeel werd was op 18 Oktober, die dag voor Clover vir die eerste keer gewaarsku het oor die voorgenome transaksie.
Die algehele waarde van die aanbod is sowat R4,8 miljard.
“Ons koop al die uitgereikte aandele, ook dié wat deur DFSA gehou word, en ons sal ook voortgaan om die huidige kontrakte met DFSA te eerbiedig,” sê mnr. Richard Izsak, bedryfshoof van die Israelse maatskappy Central Bottling Company (CBC), wat die voortou in die konsortium neem.
Op sy beurt beaam mnr. Johan Strydom, waarnemende voorsitter van DFSA en suiwelboer van Lichtenburg, dat sake soos normaalweg voortgaan. “Die kontraktuele ooreenkoms tussen DFSA en Clover sal geld tot die twee partye sinvol kan besluit oor moontlike herstrukturering van DFSA, indien dit nodig sou wees.”
Hy sê dis voortydig om nou al te bespiegel oor die impak van die oorname. “Dit is verblydend dat die konsortium wat die aanbod gemaak het, in die suiwelbedryf betrokke is en graag daar wil bly.”
Die Milco-konsortium het heelwat internasionale kundigheid in die koeldrank- en suiwelsektore saamgetrek. Dit bestaan onder meer uit International Beer Breweries, ’n filiaal van die CBC-groep, Incubev, ’n internasionale voedsel- en koeldrankmaatskappy, en Clover se huidige uitvoerende bestuur. Die plaaslike swart beheerde beleggingsmaatskappy Brimstone sal ’n belang van 15% hou en die private ekwiteitsfirma Ploughshare kry 11%.
CBC, wat uiteindelik 60% van Clover sal besit, is Israel se voorste koeldrankvervaardiger en -verspreider. Hy is ook die eienaar van Tara Dairy, dié land se tweede grootste melkverwerker.
Volgens mnr. Aran Oelsner, CBC se uitvoerende hoof, beplan dié onderneming om ’n langtermynverhouding met plaaslike suiwelboere te smee. “Ons koop maatskappye met die doel om minstens 25 jaar lank sake te doen. Soos ek boere ken, is dit juis waarna hulle soek: iemand wat bereid is om ’n pad met hulle te stap. ’n Boer belê groot bedrae in sy eie boerdery en hy moet weet dat die maatskappye waarmee hy kontrakte sluit, ’n lang tyd daar gaan wees. Ons verstaan dit en ons sal boere gee wat hulle nodig het.”
Die transaksie, wat nog onderhewig is aan goedkeuring deur reguleerders, word deur Clover se grootste aandeelhouers ondersteun.
Die maatskappy wil graag ná die oorname sy vlerke wyer as Suid-Afrika sprei en kyk ook na die res van Afrika suid van die Sahara.
Dít hou groot belofte vir die plaaslike suiwelbedryf in wanneer Afrika uiteindelik sy grense vir vrye handel kan oopstel, sê mnr. Nick Kunze, van Sanlam Private Wealth, ’n onderneming wat beleggingsfondse bestuur. “Dis ’n baie goeie transaksie met ’n stewige stel beleggers wat Clover in ’n baie goeie posisie sal plaas om voordeel uit ekonomiese groei in die res van Afrika te trek.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.