Clover stel ook glo belang om ‘n aanbod vir die KWV te maak.
Luidens ‘n berig op Business Day (13 Desember) het mnr. Johann Vorster, hoof uitvoerende beampte van Clover, Vrydag (10 Desember) gesê die maatskappy sal maklik alkoholiese drankies in sy portefeulje kan insluit.
“Ek het daaraan gedink. Ek het dit met belangstelling gevolg. Ek wonder hoekom hulle Pioneer sou kies om waarde te ontsluit en nie Clover nie,” aldus Vorster.
Volgens Vorster is dié idee slegs voorlopig en nie iets wat hy al met die maatskappy se raad bespreek het nie. Hy het dit wel al aan mnr. Thys du Toit, voorsitter van die KWV, genoem.
Sterker maatskappy
Vorster sê daar is geen fundamentele verskille tussen alkoholiese en nie-alkoholiese drankies wat Clover sal verhoed om die KWV se produkte te hanteer nie. Handelmerke onder die KWV sluit in Café Culture, Laborie Wyne en die KWV se 20 jaar oue brandewyn in.
Só ‘n aankoop kan volgens Vorster – met sy maatskappy se 14 000 verspreidingspunte en bemarkingsvaardighede – vir Clover voordele inhou.
“Die KWV-raad het nog geen formele aanbod van Clover ontvang nie, maar is ontvanklik om enige nadering van ernstige rolspelers wat ‘n verandering in die beheer van die maatskappy voorstel, te oorweeg. Enige aanbod sal in ooreenstemming met prosedures hanteer word,” aldus dié maatskappy.
Notering op JSE
Intussen noteer Clover Dinsdag (14 Desember) op die JSE. Dié aankondiging is verlede maand gemaak. ‘n Dokument word hierby aangeheg wat die prysstrukture van die aandele verduidelik. Dit is in PDF-formaat.
Lees ook:
KWV wis nie Halewood gooi flikkers
Botsende belange by KWV-aanbod?
13 Desember 2010