Sowat 70 000 ha het afgebrand en sowat 1 000 skape is vrek nadat verwoestende brande in die distrik Colesberg voorgekom het.
Die meeste van die weiding in die omgewing het ook in die slag gebly.
Mnr. Clem Olivier, voorsitter van die Colesberg-boereunie sê daar kan selfs meer diere dood wees omdat talle boere nog nie hul opnames van die skade voltooi het nie.
’n Werker op die plaas Kaya Lami, mnr. Isak Hugo (23), is dood nadat hy brandwonde aan 90% van sy liggaam opgedoen het. Drie ander mense is ook in die brande beseer.
Die brande het Dinsdag (8 November 2011) aan die oostelike kant van Colesberg begin nadat ’n verbygaande trein ’n vonk laat opspring het wat die veld aan die brand gesteek het.
Olivier sê tussen 80% en 90% van vier plase in die omgewing het afgebrand. Meer as 30 plase in totaal is geraak. Geen plaashuise is deur die brande beskadig nie.
11 November 2011