Gegewe die geldelike las wat gepaard gaan met pogings om skadelike kweekhuisgasse te verminder en omgewingsvriendelike aanpassings te maak, is dit noodsaaklik om ’n ekonomiese fokus te behou in die soeke na verbeteringe, sê die Landbou-besigheidskamer (LBK).
Dr. John Purchase, uitvoerende direkteur van die LBK, het tydens ’n geleentheid van die Nasionale Besigheidsinisiatief (NBI) in Durban oor klimaatsverandering gesê as ekonomies fokus behou word, sal dit ook help om voedselsekuriteit te verseker. Die geleentheid val saam met die klimaatberaad, COP17, en Purchase het gepraat oor die kwesbaarheid van die agri-voedselketting.
Hy sê die groot uitdaging is om meer met minder te produseer en terselftertyd kweekhuisgasse te verminder. Terselftertyd moet voedselsekuriteit verseker kan word en waardekettings moet internasionaal mededingend bly. Hiervoor is holistiese geïntegreerde modelle, sowel as innovasie en tegnologie, oor alle produksiestelsels noodsaaklik.
Purchase sê Suid-Afrika het vroeër in Kopenhagen onderneem om kweekhuisgasse teen 2020 met 34% te verminder en dit teen 2025 tot 43% op te stoot. Dit bekommer die private sektor dat sy mededingendheid hierdeur benadeel word omdat daar internasionaal nog nie ’n bindende ooreenkoms is nie.
Hoewel daar vordering by COP17 moontlik is, is dit te betwyfel of daar tot by ’n globale ooreenkoms oor klimaatsverandering gevorder sal word.
1 Desember 2011