“Buite die formele onderhandelings was daar duidelike en konsekwente boodskappe oor die dringendheid van daadwerklike klimaatsverwante optrede vanaf wetenskaplikes, nie-regeringsorganisasies en aktiviste. Hulle het gereeld aan klein, vreedsame betogings deelgeneem.
“Dieselfde dringendheid was egter nie by sommige van die party-onderhandelaars te siene nie,” skryf prof. Imraan Valodia, pro-vise-kanselier: klimaat, volhoubaarheid en ongelykheid van die Universiteit van die Witwatersrand, en dr. Julia Taylor, ’n klimaatsnavorser by Wits, op die webwerf The Conversation Africa.
Me. Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, het op ’n aanlyn mediakonferensie ná COP27 gesê die Suid-Afrikaanse afvaardiging was teleurgesteld oor hoe min werklik toepasbare aanpassingstrategieë en -planne uit COP27 gekom het.