
Dít is die boodskap aan Suid-Afrika van die Brasiliaan prof. Marcos Fava Neves, hoogleraar in strategiese beplanning en agribesigheid, en internasionale kenner oor voedselsekerheid. Neves, wat aanstaande maand die gasspreker op die landbousakekamer Agbiz se jaarkongres sou wees, het in ’n aanlyn gesprek met mnr. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, gesê dokters sou graag die wêreld vir die res van die jaar wil inperk. As ’n ekonomie egter heeltemal ineenstort, sal dit tot meer sterftes lei.
Neves het gesê lande soos Suid-Afrika, wat baie landbouprodukte uitvoer, se toekoms is steeds rooskleurig. “Die vraag na kos sal bly groei en daar bly baie geleenthede vir lande wat mededingend kan produseer. Vanjaar sal dit moeiliker gaan weens mense se verminderde koopkrag, maar ek bly optimisties oor die globale voedselmark.”
Oor die situasie weens die virus in Brasilië het hy gesê die land het met drie krisisse te doen. “Benewens die mediese en ekonomiese krisis is daar ook ’n politieke krisis weens ’n hoogs verdeelde bevolking nadat die nuwe regering onlangs naelskraap in die verkiesing gewen het. Mense is aggressief en kort-kort vlam die onrus op.”
In die voedselsektor is daar egter geen tekorte nie en dit het landbou se aansien baie verhoog. Die federale regering deel voedselkoopbewyse van $150 (sowat R2 580) per maand aan arm mense uit en hulle bestee dit om kos te koop. “Daarby sien Brasilië vanjaar uit na rekordoeste en ’n blomtyd vir uitvoer.”
Vorster het daarop gewys dat Brasilië se bevolking van 210 miljoen sowat 3,5 keer groter is as dié van Suid-Afrika, maar dat die land se ekonomie vyf keer groter is.
Tien woorde
Om die nuwe werklikheid te verduidelik wat ná Covid-19 op die wêreld wag, het Neves tien woorde uitgesonder:
* Digitaal – vir die wyse waarop onderwys, mediese sorg, werk en vermaak skielik na aanlyn oorgeskakel het.
* Tuiste – omdat almal skielik vanuit hul eie huise begin werk het en aanlyn kan vergader sonder om die wêreld vol te reis.
* Eenvoud – omdat almal moes klaarkom met baie minder luukshede en ander dinge waaraan hulle gewoond was.
* Betrokkenheid – omdat mense meer by hul omgewings- en gemeenskapskwessies betrokke is.
*Neo-kollektivisme – omdat daar ’n groter geneigdheid is om dinge saam te doen al moet almal afstand van mekaar handhaaf.
*Neo-nasionalisme – omdat plaaslike produkte en ondersteuning skielik belangriker is en almal wil byvoorbeeld plaaslike toerisme ’n hupstoot gee.
*Info-oorlading – want almal kry ’n oordosis inligting en moet meer selektief die kaf van die koring skei.
* Monitering – want alles word gemeet en dopgehou, en almal moes ’n bietjie privaatheid prysgee.
* Sanitasie – omdat die klem skielik op hande was, maskers en higiëne is.
* Natuur – omdat almal skielik weer meer bewus van die bome, plante en diere om hulle is.
“Mens kan natuurlik altyd vra hoeveel mense deur hierdie woorde geraak is, of al tien op almal van toepassing is en vir hoe lank dit mense gaan bybly. Ek glo egter dat – ná hierdie 75 dae van ’n ander lewenswyse – ons reeds vorentoe almal beter mense gaan wees wat meer vir mekaar gaan omgee, al lê die ergste besmettingstydperk nog voor,” het Neves gesê.
Landbouweekblad is steeds beskikbaar op winkelrakke, terwyl sake by https://t.co/J5CsarOmv3 en @landbouweekliks vlot verloop. Lees hier wat jou te doen staan indien jy sukkel om die tydskrif in die hande te kry én hoe jy digitaal kan lees. https://t.co/Ug6tJEMNfl
— landbou.com (@landbou) May 12, 2020