
Die Oos-Kaapse veearts dr. Nolte Troskie is die naweek aan covid-19 oorlede. Troskie was bekend onder veral skaapboere in die Oos-Kaap.
Mnr. Eddie Prinsloo, eienaar van die Merino-stoetery Heuningkrans naby Smithfield, sê Troskie was die afgelope 30 jaar die veearts verantwoordelik vir sy stoetery. “Dit was maklik om saam met hom te werk, veral omdat hy so eerlik was. Hy was die eerste veearts wat by ons begin werk het, en het uiteindelik ook die enigste veearts geword wat by ons laparoskopie uitgevoer het. Dit is deeglike, presiese werk, en Nolte was daardie tipe mens. Hy sou jou nie ’n rat voor die oë draai nie. Hy was ’n sagmoedige reus wat baie tyd vir sy medemens gehad het.”
Prinsloo sê Troskie was deurentyd besig om diens aan boere reg oor die land te lewer. “Hy was ’n uitstekende veearts wat ’n groot leemte gaan laat en ons gaan hom mis.”
Troskie was, saam met sy vrou, dr. Lienkie Troskie, ook betrokke by die inspeksie van perde tydens die perde-uithouritte wat by Fauresmith gehou is, terwyl hy ook self ’n Merino-stoetery gehad het. “Hy het by Lady Grey en Colesberg geboer, wat beteken het dat hy boerdery van albei kante af geken het.”
Prinsloo het gesê Troskie se nalatenskap sal voortleef in sy seun, Christiaan, self ook ’n veearts, wat nou Troskie sr. se werk op Heuningkrans sal oorneem.
Op Facebook het verskeie boere en belanghebbendes in die landbou aan Troskie hulde gebring.
Mnr. Casper Labuschagne, vooraanstaande skaapboer van Jamestown in die Oos-Kaap, sê dat Troskie sekerlik die beste veearts met laparoskopie was. “Die kleinveebedryf verloor ’n kundige persoon en ’n leier op sy gebied.”
Mnr. Meyburgh Erasmus, mede-eienaar van die Merino-stoetery Olmar by Molteno, sê dat hy net die grootste respek vir Troskie as veearts en sy werk gehad. “Ons gaan hom regtig mis.”
Mnr. Aubrey Richardson, 'n lid van die Suid-Afrikaanse Saalperdvereniging, sê Troskie was ’n wonderlike veearts, sorgsaam en deernisvol. “A true gentleman and friend. Hy will be sorely missed,” het Richardson op Facebook geskryf.
Troskie word oorleef deur sy vrou, Lienkie, en seuns, Christiaan en Anton.