
Swerms is die afgelope drie weke in die Hexriviervallei in die Wes-Kaap en naby Cradock in die Oos-Kaap en Hanover in die Noord-Kaap aangemeld.
Volgens Verdoorn is die swerm vlieërs by Hanover, wat vroeg in Augustus deur ’n veeboer aangemeld is, veral verbasend aangesien temperature op die plaas soms baie laag was. “Bruinsprinkane is normaalweg dormant in die winter en slegs ’n paar kan besonder koue weer oorleef.”
Hy sê dit is ook onverwags dat bruinsprinkane middel Augustus naby Cradock uitgebroei het, omdat sprinkane in gedeeltes van die streek gedurende laatsomer en vroeë winter voorgekom het. Dié swerm is kommerwekkend aangesien dit naby intensiewe gewasboerderye is.
Uitbrekings gedurende lente en somer
Verdoorn sê aangesien die Kalahari, die Karoo en gedeeltes van die Oos- en Wes-Kaap vanjaar goeie reën gedurende die somer, herfs en winter gehad het, is grondvog in die endemiese uitbrekingsgebied in die Karoo baie hoog. Dit kan bydra tot uitbrekings van bruinsprinkane.
“Temperature onder vriespunt oor die suidelike gedeeltes van Namibië en in die Kalahari en Karoo kan sprinkaanuitbrekings in daardie gebiede vertraag, maar uitbrekings sal waarskynlik so ver suid as Gqeberha voorkom.”
Voorkom massiewe swerms só
Verdoorn sê almal moet help om massiewe swerms te voorkom deur op die uitkyk vir sprinkane te wees – van klein swart insekte tot voetgangers en vlieërs. “Die doel van vroeg alarm maak is om die omvang van die uitbreking te bepaal en die nodige optrede met die kleinste moontlike impak op die omgewing te neem.”
Hy noem dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ’n direktoraat toegewy het aan die bekamping van migrerende sprinkane en rooibekvinke, wat ingevolge die Wet op Landbouplae (Wet 36 van 1983) as nasionale plae verklaar is. Dié afdeling maak egter staat op boere en die publiek om sy mandaat uit te voer.
Geregistreerde spuitstowwe word deur verskaffers aan die regering verskaf en dan deur spuitspanne benut om die sprinkaanswerms te bekamp.
Dit is noodsaaklik dat uitbrekings by die departement se sprinkaankantoor op De Aar by 053 631 3122 of 053 631 3261, of die kantoor op Upington by 083 326 7773 aangemeld word. Swerms kan ook aangemeld word per WhatsApp by CropLife SA by 082 446 8946. Dit sal dan by die departement aangemeld word.
Verdoorn sê boere moet hulself as distriksprinkaanbeamptes in hul onderskeie gebiede beskikbaar stel en bogenoemde nommers byderhand hou om uitbrekings aan te meld.
Impak op omgewing
Volgens hom hoef plaagbekamping nie ’n vernietigende impak op die omgewing te hê nie. Dit is egter belangrik dat by die beginsels van omgewingsversoenbare plaagbekamping gehou word. In die geval van bruinsprinkane beteken dit dat die uitbrekings so vroeg moontlik onder beheer gebring moet word deur voetgangers slegs met geregistreerde spuitstowwe te bekamp.
“Alles moontlik moet gedoen word om te keer dat klein swerms voetgangers in massiewe swerms begin saamdrom. Vlieërswerms van duisende hektare is in April vanjaar aangemeld in die Karoo naby Jansenville en Graaff-Reinet. Vroeë optrede sal in die komende seisoen nodig wees om ’n soortgelyke situasie te voorkom.
“Boere in die Karoo en Namakwaland het bewys dat klein swerms voetgangers vernietig kan word deur skape daaroor te jaag.”