
“As julle die Nasionale Ontwikkelingsplan aanvaar, sal die 50%-plan van die tafel af wees,” was dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Universiteit van Johannesburg, se raad aan boere wat Agri Gauteng se jaarkongres in Centurion bygewoon het.
“Die NOP gee jou die geleentheid om beheer te neem.”
Croucamp se teorie is dat pres. Jacob Zuma die 50%-plan aan mnr. Gigile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, genoem het en dat dit is waar dit vandaan kom. Maar volgens hom weerspieël die plan nie die algemene gevoel in die ANC nie.
Hy het boere aangeraai om vir grondeienaarskap van swart Suid-Afrikaners te veg. “As ons eienaarskap wil hê, moet ons dit ook vir swart mense wil hê.”
Boere moet volgens hom versigtig wees om nie van praktiese probleme noodsaaklike probleme te maak nie. “Ons moet versigtig wees om denkbeeldige vyande op te dis. Ons moet ons koppe draai.”
Hy het egter gesê te oordeel aan van die besprekings waarna hy by die kongres geluister het, “het koppe al baie gedraai sedert ek 'n paar jaar gelede by boere begin uithang het”.
Hy dink wel boere staar hulle te veel vas teen iemand soos mnr. Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters, en sien nie die groter prentjie.
Hulle moet ook nie die Regering met hongersnood probeer dreig nie. “Hulle weet daar is kos.” Suid-Afrika se hongersnood het meer te doen met armoede en logistiek, het hy gesê.
Hy het boere aangemoedig om betrokke te raak by die opvoeding van plaaswerkers se kinders. “Ek sou 'n plan saam met Curro (die private onderwysgroep) gemaak het, om skole met koshuise vir plaaswerkers se kinders te bou.”