Die hulppakket moet ekonomiese en maatskaplike verligting bring aan ondernemings wat spartel om oorlewing, en honger mense wat weens die inperking nie meer ’n inkomste het nie. Altesaam R50 miljard is geoormerk vir tydelike verhogings van maatskaplike toelaes en die verspreiding van kospakkies. Dit sal waarskynlik grootliks aan voedsel- aankope bestee word.
“Die hulppakket sal direk tot ’n verhoging in die vraag en bekostigbaarheid van voedsel lei en kan ’n deurslaggewende rol speel om gemoedere in arm woonbuurte te kalmeer,” sê dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimumgroep. “Niks wakker maatskaplike onrus aan soos honger mae nie. Die regering is deeglik bewus van die gevare wat die dreigende resessie vir die land inhou.”
Hoewel die hulppakket wyd verwelkom is, word uit alle oorde gevra waar die geld vandaan gaan kom, veral omdat die staatskas leeg is.