Die ministers wat die oorname van Massmart deur Walmart namens die Kabinet betwis, is skerp deur die DA veroordeel.
Die Mededingingsappèlhof hoor vandag getuienis aan in die saak waarin me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, en dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, die Mededingingstribunaal se goedkeuring van Walmart se oorname van Massmart teenstaan.
Hartseer
Mnr. Kobus Marais, die DA se skaduminister vir Ekonomiese Ontwikkeling, sê dis hartseer dat die Regering só hard werk om werkskepping teë te staan.
“Dis jammer dat die publiek se geld gebruik word om 'n buitelandse belegger daarvan te weerhou om plaaslik werksgeleenthede te skep. Veral in 'n tydperk dat werksgeleenthede skaars is.”
Marais sê dis duidelik dat Walmart daartoe verbind is om die land te verbeter. Die multinasionale inkopiereus beoog om 15 000 poste in die nabye toekoms te skep deur nuwe takke te open.
Belegging
Die maatskappy het reeds R100 miljoen in die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde belê en oorweeg dit om Suid-Afrikaanse produkte in ander Walmart-winkels te verkoop.
Marais sê op grond van dié feite moet die winkelgroep toegelaat word om in Suid-Afrika handel te dryf. “Ons moet oop wees vir besigheid en buitelandse belegging. Kyk hoeveel ander ontwikkelende lande het dit reeds gedoen.”
Die betrokke ministers span die mededingingsowerhede vir eie politieke gewin in, sê Marais.
“As die ministers verwag dat die Mededingingstribunaal sy besluit moet omkeer as gevolg van hul persepsie dat die openbare belang nie beskerm word nie, vertolk hulle die Mededingingsowerhede se rol heeltemal verkeerd.”
Vir buitelandse beleggers kan dit lyk of die Regering eenvoudig besig is om soveel as moontlik toegewings uit Walmart te wurg. Dít beskadig die land se beeld in die buiteland.
“In dié verband het die Zuma-regering sy eie politieke agenda bo landsbelang geplaas,” sê Marais.
20 Oktober 2011