Werkers moet in ’n plaas se wins en verlies deel as teenvoeter vir die groenskrif op grondhervorming, aldus die Demokratiese Alliansie.
Luidens ’n berig in Beeld (13 September 2011) het die party tydens ’n sessie in die parlement die groenskrif afgeskiet en gesê dit teer op die taal van apartheid en die koloniale afneem van grond.
Volgens die party ignoreer die dokument van elf bladsye die ANC se onbeholpenheid, wanbestuur en korrupsie wat, volgens die DA, ’n kenmerk van die afgelope 17 jaar se grondhervormingsproses geword het. Volgens me. Lindiwe Mazibuko, woordvoerder vir die party, is die DA tans besig om ’n gedetailleerde beleid oor die kwessie op te stel.
Twee voorstelle
Die party se twee belangrikste beleidsveranderingsvoorstelle is dat plaaswerkers aandeelhouers van plase moet word, en dat die miljoene inwoners op stamgrond private eiendomsreg moet ontvang.
’n Plaaswerker kan ’n aandeelhouer in ’n boerdery word, met ’n aandeel wat die staat vir die werker koop. So deel die werker in die plaas se wins en verlies, eerder as om ’n eienaar van die plaas te word. Wat die voorstel oor stamgrond betref, sê die DA dit is al voorgestel, maar die ANC wil dit nie doen nie, aangesien die party die politieke steun van magtige hoofmanne het.
Me. Annette Steyn, die party se woordvoerder oor grondhervorming, sê die staat weet nie hoeveel grond deur die Regering besit word en hoeveel grond in privaat besit is nie. Die georganiseerde landbou is derhalwe tans in die proses om die grondbesit in distrikte aan te teken.
Bron: Beeld
14 September 2011