
Die Kaapse metropool genereer tussen 1 000 ton en 2 000 ton organiese afval per dag en omtrent al hierdie afval eindig op munisipale vullishope waar dit metaangas genereer en dus waardeloos lê. Dié organiese afval bevat egter waardevolle mikro- en makro-elemente, asook organiese koolstof wat deur kompostering behoue kan bly en weer in ’n landbouproduksieproses as bemesting gebruik kan word. Die probleem is egter om hierdie organiese afval by die bron – die kombuis van die verbruiker, restaurant en hotel – van ander vullis te skei, dit daarna te versamel en dan na ’n komposteringsaanleg te vervoer.
’n Gidsprojek om juis al hierdie probleme aan te pak is op onlangs in Tulbagh in die Wes-Kaap deur die Witzenberg-munisipaliteit, met die samewerking van Waai, ’n organisasie sonder winsoogmerk, van stapel gestuur.
Mnr. Keith Roman, die projekbestuurder, sê die kans is goed dat hulle die vullis in Tulbagh wat na ’n vullisterrein moet gaan, met tot 90% kan verminder. Dit sal die gebruikstyd van die Witzenberg- munisipale vullisterrein met 20 jaar verleng.
“Witzenberg is die eerste munisipaliteit in die land wat organiese afval by die bron van ander vullis skei en wat ’n zerovullis-projek in Suid-Afrika begin. Die zerovullis-benadering benut alle materiale wat as vullis geag word, tot die volle potensiële finansiële en maatskaplik-ekonomiese voordeel van die omgewing en die gemeenskap. Deur organiese en herwinbare afval in die kombuis reeds te skei van die materiale wat na die vullisterrein moet gaan, sal die koste van vullisbestuur koste verlaag en die gehalte van kompos en herwinbare materiale verhoog word.”
Openbare deelname
Roman sê die deelname van die publiek is uiteraard belangrik in hierdie opsig en die tyd is ryp daarvoor. “Op Tulbagh het die gemeenskap ’n Tulbagh-huishoudingkomitee gekies wat die koördinering en kommunikasie behartig en bewustheid skep onder die gemeenskap. Ons het komposteerbare sakke en houers waarin die sakke pas, laat maak. Dit is verskaf aan elk van die ongeveer 100 huishoudings wat aan die projek deelneem. Dit maak die versameling in die kombuis maklik.
“Elke huishouding ontvang ook ’n groen sak vir tuinvullis, ’n deurskynende sak vir herwinbare materiale en ’n swart sak vir die res van die vullis. Elke huishouding het ook aanwysings ontvang wat verduidelik hoe die vullis gesorteer en geskei moet word. Hierdie aanwysings word deurgaans aangevul met volgehoue opleiding en bewusmakingsveldtogte. Die leierskap binne die gemeenskap is baie sterk en dit gee die projek ’n baie beter kans op sukses.”
Die sakke kan elk 2 kg tot 3 kg organiese vullis hou. Dit sal van die sypaadjie opgetel word deur ’n voertuig wat dit na die Kristy’s-komposteringaaanleg 5 km buite Tulbagh neem. In hierdie stadium is daar nog nie ’n spesifieke doel vir die kompos nie, sê Roman.
“Ons is nie bekommerd oor ’n mark vir die kompos nie – dit is ’n waardevolle produk waarvoor daar ’n gesonde aanvraag is en dit kan ’n inkomste vir die munisipaliteit en die gemeenskap beteken. Hierdie projek het uitstekende potensiaal om ’n sukses te wees omdat waarde geskep word waar daar voorheen ’n koste was om vullis te hanteer.
“Vir die Witzenberg-munisipaliteit is dit uiters belangrik dat die projek slaag en dus na die res van die munisipale streek uitgebrei kan word omdat hulle hul vullis teen enorme koste na Vissershok by Kaapstad sal moet vervoer wanneer hul vullisgate vol raak. Hierdie koste sal uiteraard aan die belastingbetaler oorgedra word. Daarom is dit in almal se belang om by hierdie projek betrokke te raak.”
Waai is gemoeid daarmee om zerovullis-projekte na munisipaliteite oral in die Wes-Kaap uit te brei omdat ruimte vir vullisterreine beperk is en dit onbekostigbaar duur raak om van vullis ontslae te raak. Volgens kenners in die bedryf sal die Vissershok-vullisterrein teen die huidige daaglikse lewering van vullis slegs vir nog ’n dekade plek vir vullis hê. Munisipaliteite tot so ver as Wellington, Stellenbosch en Franschhoek moet reeds hul vullis na Visserhok neem omdat hul vullisterreine hul volle kapasiteit bereik het. Herwinning hou tans slegs 15% van die totale volume vullis van die hope af omdat dit duur en bykans onmoontlik is om die materiaal uit gemengde vullis te soek. ’n Bydraende faktor is dat bitter min van die verpakking van geriefskosse werklik herwinbaar is.