
Mnr. Trenton Birch van Cheeba Africa het op die virtuele Craft Cannabis-beraad gesê die Cheeba Cannabis Academy gaan mense oplei in vaardighede wat die daggabedryf broodnodig het.
“Soos die bedryf groei, gaan die behoefte aan opgeleide mense ook groei om by te bly met verbruikers se behoeftes.”
Die akademie word onderskryf deur die Universiteit van Limpopo en Edupark.
Luidens die prospektus sal Afrika se wettige daggabedryf teen 2023 meer as R94 miljard werd wees. Die plaaslike mark vir kannabis en verwante produkte behoort ongeveer R27 miljard te beloop.
Tydens die beraad het mnr. Sibusiso Xaba, medestigter en uitvoerende hoof van die Africa Cannabis Advisory Group, beklemtoon dat daar tans te veel klem op daggaboerdery geplaas word.
“Dis asof mense dink dis al wat daar aan die bedryf is. Daar is egter ’n behoefte aan ’n ekostelsel rondom die primêre produksie sodat die bedryf kan ontwikkel. Opvoeding oor dagga en aktiwiteite soos verwerking, ekstraksie, formulasie en die skep van handelsmerke is baie belangrik. Beleggers moet ook beter ingelig word oor geleenthede in die res van die waardeketting.”
Die akademie sal kannabis-kursusse aanbied vir nuwe toetreders tot die bedryf, mense wat hul vaardighede wil uitbrei, en mense wat wil weet hoe kannabis kan help met hul persoonlike welstand en gesondheid. Daar is aanlyn kursusse wat op selfstudie gemik is, asook heeltydse studiegeleenthede by die kampus in Johannesburg. Dié kampus het verblyf vir sowat 190 studente.