Die Fair-trade Independent Cannabis Association (FICA) sê hy verwelkom die aankondiging deur pres. Cyril Ramaphosa dat die regering beoog om die regulatoriese prosesse vir die daggabedryf in Suid-Afrika te versnel.
Die toepassing van die regulasies en wetgewing sal dié belowende bedryf in staat stel om beleggings van miljarde rande deur buitelandse beleggers te ontsluit. Luidens ’n verklaring sê Fica dit is van deurslaggewende belang vir die groei en ontwikkeling van die bedryf en sy belanghebbendes dat die regering se regulasies tred hou met wat in ander lande gebeur.
Lande soos Lesotho is verder gevorder as Suid-Afrika ten opsigte van daggaregulering en begin die voordele daarvan sien. Fica is uitgesproke oor die potensiaal van die plaaslike daggabedryf, ’n bedryf waar baie gesê word oor die uitvoermark en min aandag aan die plaaslike sektor geskenk word. Dit moet aandag geniet sodat die enorme potensiaal daarvan kan bydra tot die ekonomie van die land.