
Ná drie jaar van dalende verkoopsyfers vir nuwe voertuie in Suid-Afrika is daar uiteindelik lig in die tonnel met ’n gesaghebbende voorspelling dat voertuigverkope vanjaar sal stabiliseer en selfs effe kan styg.
Mnr. Chris de Kock, Wesbank se hoofbestuurder, het tydens die Motor van die Jaar-toekenning by Kyalami in Gauteng gesê die verkope van nuwe voertuie het die afgelope drie agtereenvolgende jare gedaal. In 2016 was hierdie daling 11,4% nadat Wesbank ’n verlies van 12% voorspel het. Vir 2017 voorspel De Kock ’n groei in verkope van 1,74%.
Terloops, die Opel Astra is as die SAGMJ WesBank se Motor van die Jaar 2017 aangewys met die Audi A4 en die Volkswagen Passat onderskeidelik in die tweede en derde plekke.
Mark vir nuwe voertuieDe Kock sê WesBank se voorspelling is gegrond op ’n holistiese beskouing van die mark vir nuwe voertuie. Dit sluit ekonomiese faktore in soos die sterkte van die rand, rentekoersstabiliteit, ’n gematigde groei in die bruto binnelandse produk (BBP) èn inflasie wat terugkeer na die teikensone.
Hoewel sowat 557 000 nuwe voertuie na verwagting in 2017 nuwe base sal kry, sal handelaarsverkope waarskynlik onder druk bly, veral in die passasiers- en kommersiële voertuigsegmente.
Handelaarsverkope sal na verwagting teen die einde van 2017 sowat 0,5% laer wees as die totaal vir 2016. Dit sal ’n geskatte afname in verkope verteenwoordig van onderskeidelik 2% en 4,1% vir passasiersvoertuie en vir kommersiële voertuie by handelaars.
“Die verwagte styging in verkope sal waarskynlik van ’n groei van 3,29% in regeringsaankope en ’n groei van 1,3% in die verhuringsmark vir toerisme kom. Afgesien van ’n moeilike afgelope 12 maande en ’n uitdagende jaar wat voorlê, glo ons die ekonomie sal beperkte positiewe groei van nou af tot 2018 toon,” sê De Kock.
Die Opel Astra is WesBank se Motor van die Jaar. Foto: Verskaf