
Die twaalf maande verouderde Huguenot-kaas van Dalewood Fromage, 'n kaasmakery in die hart van die Kaapse Wynland, is bekroon as die 2016 Suid-Afrikaanse Suiwelproduk van die Jaar by die Agri-Expo Qualité-toekenningsdinee in Kaapstad.
Dié kaas, Dalewood Fromage se vlagskip-produk, is deur mnr. Rob Visser in 2003 gemaak. Dit is 'n semi-harde kaas met 'n unieke smaak en het sedert 2004 talle gesogte toekennings gewen. Die kaasmakery is tussen Simondium en Franschhoek, en Visser se Jersey-kudde verskaf die melk vir Dalewood se suiwelprodukte.
Dat dié nasionale suiwelkampioenskap ál gewilder raak, is duidelik: Altesaam 886 suiwelprodukte is vanjaar deur 86 vervaardigers ingeskryf, wat deur 72 beoordelaars getakseer is.
Dié inskrywings oortref alle vorige rekords, sê mnr. Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo. "Ons sien hierdie rekords as 'n duidelike aanduiding van die waarde en geloofwaardigheid van 'n kampioenskap van hierdie aard vir die suiwelbedryf."
Gesogte Qualité-toekenningsNaas die Suiwelproduk van die Jaar, het 23 suiwelprodukte die gesogte Qualité-toekennings verwerf. "Die gehalte van suiwelprodukte wat ingeskryf word, verbeter elke jaar," sê mnr. Kobus Mulder, hoofbeoordelaar.
Qualité is die merk van uitnemendheid vir suiwelprodukte in Suid-Afrika. Vanjaar het Parmalat SA vyf Qualité-toekennings verwerf; gevolg deur die Fairview Cheese Company met vier; die Dairy Exchange het drie ontvang en beide Fair Cape Dairies en Dalewood Fromage het elk met twee toekennings weggestap. Roe-Mhy Bok Dairy, Woodlands Dairy, Lancewood Holdings, La Montanara, Meze Foods, die Rhodes Food Group en Belnori Boutique Cheesery het elk een Qualité-toekenning ontvang.
* Hierdie SA suiwelkampioenskap is die voorloper vir die SA Kaasfees, wat van 30 April tot 2 Mei by Sandringham, buite Stellenbosch, plaasvind. 'n Beperkte getal kaartjies was teen druktyd nog by Computicket beskikbaar.
Klik hier om 'n lys van al die wenners te lees.
Foto-byskrif: Mnr. Johan Ehlers (links) oorhandig die wisseltrofee vir die Suiwelproduk van die Jaar aan me. Patrina Visser en mnr. Roib Visser. Foto verskaf