Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê damvlakke in die provinsie staan tans op 71,4%, terwyl damme in Kaapstad se netwerk 81,4% vol is. “Dit is goeie nuus. Maar as ons dit vergelyk met verlede jaar hierdie tyd is die Wes-Kaap agter, want toe het die provinsie gemiddeld 81,4% gehad, terwyl Kaapstad se netwerk heeltemal vol was.”
Hy sê tot dusver vanjaar was die provinsie se reënseisoen ondernormaal – “en ons moet nou regmaak vir die komende somer”.
Volgens hom bly projekte wat indringerplante uit opvangsgebiede verwyder, belangrik. “CapeNature het in die 2021-’22-boekjaar R12 miljoen bestee om 4 975 ha onder sy bestuur skoon te maak. Dit is ook belangrik dat munisipaliteite verseker dat hul waterinfrastruktuur in ’n goeie toestand gehou word. Lekkasies wat vinnig reggemaak word, kan ’n groot bydrae lewer tot waterbesparing.”