Die bestuur van die entstofmaatskappy Design Biologix hoop dat hulle binnekort registrasie van die Registrateur van die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels (wet nr. 36 van 1947) vir sy nuwe entstof vir slenkdalkoors sal ontvang.
Me. Karen Nel, eienaar van dié entstoffabriek, en dr. Angela Buys, uitvoerende hoof, sê dit is “omdat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling die omvang van die probleme van entstowwe vir veesiektes besef”.
Die maatskappy is tans ook in die vroeë ontwikkelingstadium vir nuwe entstowwe vir hartwater, galsiekte en rooiwater. Boere en veeartse is baie bekommerd oor die tekort aan sommige entstowwe, veral teen slenkdalkoors, bloutong en perdesiekte, omdat Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) in Pretoria vanweë probleme tans nie sekere entstowwe vervaardig nie.