
Groot dankbaarheid bestaan vir die redelik goeie en wydverspreide reën wat oor groot dele van Suid-Afirka land geval het, sê mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA.
In 'n nuusverklaring wys Meintjes daarop dat die ingrepe van die droogte in alle boerderyvertakkinge van só 'n omvang was en steeds is dat daar nog nie sprake van herstel is nie. In sommige gevalle sal dit 'n paar jaar neem om weer volhoubare produksievlakke te kan bereik.
“Die geloofspad wat boere gestap het deur hierdie ongemaklike tyd, was 'n aspek wat uitgestaan het. In die verband wil ons graag al die kerkgenootskappe sowel as boere onderling bedank vir die geestelike bystand en onderskraging wat deurlopend gegee word. Die krag van gebed is opnuut beklemtoon en het dit boere gedra.”
Donasies van oral
Meintjes het groot dankbaarheid uitgespreek vir al die donasies wat uit 'n wye gebied ontvang is om boere se nood te help verlig. “Sonder om afbreek te doen aan ander skenkers, wil die TLU SA opnuut baie dankie sê vir die Solidariteit-beweging, wat deur die Helpende Hand, AfriForum en Solidariteit self, etlike duisende rande bewillig het waarvan die laaste gelde in hierdie stadium tot beskikking van boere oor die land gestel is.
“Spanwerk was hoog op almal se agenda en is daar as voorbeeld groot waardering toe 'n lid van die die TLU SA by Makoppa, mnr. Henk Schutte, ongeveer duisend bale voer aan medeboere geskenk en rolspelers elkeen binne hul eie vermoë uitgereik het met hulp om dié bale te verskuif na verskeie boere in Stella, Schweizer-Reneke en Coligny. Ons sê dankie aan Obaro, NWK, Boere in Nood, Agri Limpopo en CVO Vervoer, wat almal gehelp het met die verskuiwing.”
Hoe boere hulp verleen het
'n Ander aspek wat in dié tyd ook baie sterk na vore gekom het was die wyse hoe boere oor distriks- en provinsiale grense heen hulp verleen het.
Meintjes het daarop gewys dat in baie gevalle lê hef aan nog voor. “Ons vertrou dat ál die rolspelers sal poog om op só 'n wyse bystand te verleen dat ons die huidige boere in produksie kan hou,” het Meintjes gesê.