
Dit was ’n nag van verskrikking toe ’n plaaswerker vroeg Woensdagoggend na bewering ’n tenger, bejaarde vroue-plaaseienaar (78) aangerand, ’n vuurwapen gesteel en sy eie vrou langs die boervrou op ’n plaas buite Van Wyksvlei doodgeskiet het.
Die man, wat “sewe jaar op die plaas, skouer aan skouer met sy werkgewers gewerk het”, verskyn binnekort in die landdroshof op aanklagte van moord, poging tot moord, poging tot verkragting en huisbraak.
Volgens lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 04:00 gebeur. “Die plaaswerker (60) het ingebreek en die vroulike plaaseienaar met ’n piksteel aangerand en gedreig om haar te verkrag. Hy het ’n jaggeweer uit die kluis gevat en verskeie skote in die huis afgevuur. Die verdagte het die slagoffer gedwing om saam met hom na sy huis op die plaas te gaan waar hy na bewering sy eie vrou (58) doodgeskiet het. Die boervrou het ontsnap. ’n Buurman het kom ondersoek instel en die polisie omstreeks 09:00 gebel. Die polisie het die verdagte dieselfde dag by sy huis in hegtenis geneem. Die oorlewende slagoffer is na ’n kliniek vir behandeling geneem.”
Volgens die vrou se dogter is die voorval vir hulle erg traumaties. Sy het haar ma Vrydag weens die beserings na die dokter gebring. Sy het kneusplekke en snye, en het bloed verloor. “Dit dokter sê dit is ’n wonder dat niks gebreek is nie.
“Ek en my man het ons dogter Maandag na haar skool in die Vrystaat gebring. My ma wou nie saamgaan nie en het alleen op die plaas gebly. Die plaaswerker het na bewering kort na ons vertrek begin drink. Sy het my telefonies vertel, waarna ek my neef se seun gevra het om ’n oog oor die plaas te hou. Gelukkig tog, want hy het op my ma afgekom.
“Dinsdagnag was die werker al om die huis en het ruite stukkend geslaan. Die honde het aanmekaar geblaf, maar my ma het nie besef wat aangaan nie omdat sy doof is en gehoorstukke dra.
“Toe sy weer sien, is vuurhoutjies in haar kamer getrek. Sy het haar selfoonlig aansit. Sy wou die polisie bel, maar hy het na bewering haar selfoon stukkend getrap. Hy het haar begin vloek en skel en op die bed neergegooi. Tussendeur het hy van die brandewyn in die huis gedrink. Sy is met ’n piksteel geslaan om haar te dwing om die kluis oop te sluit het. Hy kon nie die pistool hanteer nie en het ’n jaggeweer gevat en wild en wakker geskiet. Nog ruite het gebreek. Hy het haar uit die huis gedwing na sy eie huis, waar hy sy vrou wakker gemaak het.
“My ma sê sy vrou was baie kalm. Hy het die twee vroue gedwing om langs mekaar op stoele te sit en gesê daar is drie patrone, een vir elkeen van hulle. Hy het na bewering sy vrou geskiet. Terwyl my ma gebid het, het hy haar uitgelag. Een van die patrone wat uit die geweer geval het, het my ma gou saam met die doppie opgetel. Hy het dit teruggeëis, maar sy het die patroon by die deur uitgeskiet en net die doppie vir hom gewys om hom te flous. Toe dit lig word, het sy vir hom gesê sy gaan huis toe loop en koffie maak. Hy kon haar seker in die rug geskiet het. By die huis het sy al die deure gesluit, geëet, koffie gemaak en aangetrek. Toe sy hom by ’n venster gewaar, het sy haar gehoorstukke gegryp en haarself in die spens toegesluit waar sy twee en ’n half uur gebly het. Ons het later gesien hy het die voordeur met die geweer se kolf afgebreek. Die papegaai, Boesman, het heeltyd my naam geroep en die hanslam het geblêr. Dit het my ma laat besef die werker is naby. Later het sy gehoor hoe my neef se seun haar naam uitroep. Hulle twee het van die plaas af gevlug en die polisie ontbied. Die polisie het die verdagte in sy huis by sy vrou se lyk gekry.
“Toe ons ná my dogter se saalbyeenkoms uitstap, het ons oproepe gekry. My neef se seun het gevra waar is ouma se kamer, hy kry haar nie, die ruite is uitgeslaan. Hulle het later laat weet my ma leef. My ma weeg net 45 kg. Sy het baie seergekry, van binne en buite.”
Selfs hul plaasdiere wat weens die droogte al om die huis is, is weens die geweerskote getraumatiseer, sê sy.
“Niks was met die plaaswerker fout toe ons vertrek het nie. Ons het nog die vorige dag skouer aan skouer gewerk. Hy het sewe jaar by ons gewerk en gesê hy sal mooi na die plaas en my ma in ons afwesigheid kyk,” sê sy.