
Graanboere kan ’n Graan SA-toepassing gebruik om hul boerdery se data in te voer en te vergelyk met dié van hul buurmanne en die breër Suid-Afrikaanse mark.
Mnr. Dirk Strydom, bestuurder van graan-ekonomie en bemarking by Graan SA, het by die organisasie se jaarkongres op Nampopark buite Bothaville gesê dié maatstaftoepassing se waarde sal toeneem soos meer boere dit gebruik.
“Die inligting vervat en verskaf deur die toepassing gee boere die geleentheid om beter besluite te neem want hulle het toegang tot goeie kwaliteit inligting,” aldus hy. Volgens Strydom sal die toepassing boere toegang gee tot inligting wat nie gewoonlik geredelik beskikbaar is nie.
“Om te meet, is om te weet,” sê hy. “Ons sit die gereedskap in jou hand wat jou help om te meet.”
Van die inligting wat in die toepassing ingesleutel kan word, is data oor reënval, markinligting, plantvordering, oesvordering en -toestande. Boere sal toegang kan kry tot kollektiewe inligting op die boereverenigingvlak, sowel as landswye data.
In die toekoms sal boere ook syfers oor produksiekoste, insetkoste en prysvergelyking kan bekom. Sowat 86% van kongresgangers het aangedui dat hulle die toepassing sal gebruik.
Volg dié skakel vir meer https://app.grainsa.co.za