Geen databasis bestaan in Suid-Afrika oor die besonderhede van plaaseienaarskap en hoeveel landbou-eenhede deur die verskillende rassegroepe besit word nie.
Met die voortdurende onsekerheid oor wie grond in die land besit, het dit nou vir die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye noodsaaklik geword om met ’n program te begin om inligting daaroor te verkry.
Me. Tina Joemat-Pettersson, minister, het in ’n parlementêre antwoord gesê dat daar nie “ ’n enkele databasis is wat die plaasnaam of -nommer, eienaar, sy/haar ras, geslag of waarmee hy/sy boer, bevat nie.”
Voortdurende veranderinge
Weens die dinamika van die bedryf is daar voortdurend veranderinge ten opsigte van eienaarskap en die vlak van landboubedrywighede wat dit moeilik maak om rekord te hou.
Volgens Statistieke Suid-Afrika het die getal kommersiële plaaseenhede sedert 1993 met ’n vyfde verminder. Toe was daar 57 980 kommersiële plaaseenhede wat in 1996 tot 60 938 vermeerder het, maar in 2002 tot 45 818 verminder het. Teen 2007 was daar net 39 982 plaaseenhede.
Na raming is daar sowat 200 000 kleinboere in die land. ’n Arbeidsmagsopname in 2007 het aangedui dat 2,5 miljoen huishoudings (altesame vier miljoen mense) bykomende kos vir huishoudelike gebruik produseer.
Joemat-Pettersson sê ’n studie wat ras en geslag sal insluit, word onderneem om grondeienaarskap vas te stel. Daar sal eers net op vier gebiede gefokus word sodat die beste metodologie bepaal kan word om die soort inligting in te win en te behou.
7 September 2010